Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 September 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse ysbreker en navorsingskip wat voorraad na die Suidpool vervoer, die SA Agulhas Twee, vertrek vandag uit Kaapstad na Gough-eiland, waar die Suid-Afrikaanse Weerdiens ʼn waarnemingstasie het. Die skip behoort aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing en sal die Gough 70-aflosspan en vrag na die weerstasie vervoer. Die departement sê die stasie help met data-insameling en wetenskaplike navorsing en monitor die uitwerking van hewige weerstoestande op die Suid-Afrikaanse kuslyn.
# Die DA sê die meeste riviere in die Stad Johannesburg is in ʼn haglike toestand met rekord-hoë E. coli-vlakke wat dit vir mens en dier gevaarlik maak. Die party se mosie vir ʼn uitvoerbaarheidstudie om moontlik nog ʼn vullisopvangstelsel in die Jukskeirivier op te rig, het in die raad misluk. ʼn DA-woordvoerder, David Foley, sê die opvangstelsel is noodsaaklik vir die riviergebied se omgewingsgesondheid:
# En Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die Majik Forest Renosterveldtuin in Durbanville amptelik geopen. Die tuin is deur die Wildflower Stepping Stones Project-groep ontwikkel wat hulle daaraan toewy om veldblomme op plaaslike grond te plant om habitat-fragmentasie te verhoed. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die tuin vertoon die skoonheid en verskeidenheid van die inheemse Swartlandskalie-renosterveld, waar plantegroei voorkom wat grootliks uit die gebied verdwyn het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….