Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 September 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Suid-Afrika se eerste navorsingsentrum om koolstof op te vang, te gebruik en te berg is amptelik ingewy. Die Raad vir Geowetenskap het dit op ‘n terrein in Leandra, Mpumalanga, ontwikkel omdat dit naby vrystellingsbronne van Sasol en talle steenkool-kragstasies is. Die projek se doel is om die land se koolstof-voetspoor te verklein. Lugbesoedeling in gebiede rondom die steenkool-kragstasies in Mpumalanga word as van die ergste ter wêreld beskou en veroorsaak na raming meer as twee-duisend-200 sterftes per jaar.
Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê intussen baie werk is gedoen om raamwerke en standaarde vir luggehalte op al drie regeringsvlakke in te stel. Die land het ʼn sterk raamwerk om luggehalte te bestuur en dit volg ook die Wêreld Meteorologiese Organisasie se riglyne en benaderings. Die regering wil gebiede waar luggehalte voorkeur kry, uitbrei na Johannesburg, Tshwane, die Wes-Rand-distrik en Bojanala in Noordwes. Patience Gwaze van die departement sê luggehalte in hierdie gebiede is swak.
# En ten slotte: Suid-Afrika se aluminiumherwinning is laer as wêreldneigings met lae herwinningsyfers en onvoldoende infrastruktuur. Produkte wat van herwonne aluminium gemaak word, gebruik sowat 80-persent minder krag teenoor die vervaardiging van nuwe aluminiumprodukte. Die uitvoerende hoof van die Aluminiumfederasie van Suid-Afrika, Muzi Manzi, sê die grootste uitdagings in die sektor is die hoë koolstofvoetspoor en onbeheerde uitvoer van skrootmetaal. Hy is ‘n voorstander van strenger uitvoerbeheermaatreëls en meer bewusmakingsveldtogte om herwinning ‘n hupstoot te gee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….