Eko-minuut 13:30
BULLETIN 4 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Hittegolwe vererger wêreldwyd en gebeur meer gereeld weens mensgemaakte klimaatsverandering, met Japan wat geen uitsondering is nie. Die stad Komatsu, in die sentrale streek Ishikawa, het vandag ‘n nuwe rekord van 40,3-grade Celsius aangeteken. Toyama-stad, ook in die sentrale streek, het 39,8-grade Celsius aangeteken, die hoogste temperatuur sedert rekords begin hou is. Japan het op 30 Julie sy hoogste aangetekende temperatuur bereik, ‘n snikhete 41,2-grade Celsius in die westelike streek Hyogo. Die reënseisoen het ongeveer drie weke vroeër as gewoonlik in die westelike streke geëindig, wat ook ‘n nuwe rekord is.
# Voorbereidings vir die tweede Afrika-klimaatberaad is tans onderweg in Addis Abeba, Ethiopië. Die beraad, wat van 8 tot 10 September deur die Afrika-Unie en die Ethiopiese regering aangebied word, sal fokus op ‘Die versnelling van globale klimaatoplossings: Befondsing vir Afrika se veerkragtige en groen ontwikkeling.’ Belangrike doelwitte sluit in om teen 2030 hernubare energie uit te brei tot 300-gigawatt, Afrika se klimaatbefondsingsgaping aan te pak en Afrika-geleide oplossings vir ‘n regverdige, groen oorgang ten toon te stel. Meer as 45 staatshoofde word op die beraad verwag.
# En die Verenigde Nasies se konferensie oor handel en ontwikkeling sê hoewel plastiek regstreeks verbind word met besoedeling, verlies aan bioverskeidenheid en klimaatsverandering, is daar steeds geen omvattende internasionale verdrag om die samestelling, vervaardiging, handel en wegdoening te bestuur nie. Die jongste Wêreldhandel-bywerking toon plastiekvervaardiging het in 2023 wêreldwyd 436-miljoen metrieke ton bereik. Altesaam 75-persent van alle plastiek wat nog ooit vervaardig is, het meestal in die wêreld se oseane en ekostelsels beland. Die konferensie sê hy beywer hom vir maatreëls om ekologies-volhoubare plaasvervangers vir plastiek te ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….