Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die kleinhandelgroep Pick n Pay het ‘n vennootskap gesluit met E-waste Recycling Authority, ‘n organisasie sonder winsbejag, vir die herwinning van elektroniese afval. Volgens WasteAid word sowat 360-duisend ton se e-afval jaarliks in Suid-Afrika geproduseer, waarvan Gauteng vir sowat 55-persent verantwoordelik is. Houers by Pick n Pay se winkels sal na verwagting jaarliks ‘n duisend ton elektroniese afval insamel. Pick n Pay sê die herwinningshouers sal help met die skepping van werksgeleenthede vir mense met gestremdhede deur spesialisopleiding in die herstel, hernuwing en herwinning van elektroniese afval.
# Die Shoprite-groep doen baanbrekerswerk met hernubare energie in Kaapstad deur oortollige sonkrag-energie van Checkers Hyper Brackenfell by die Fairbridge-winkelsentrum deur die stad se kragnetwerk te stuur. Dit verminder afhanklikheid van die nasionale netwerk en ondersteun Shoprite se klimaatdoelwitte. Die foto-voltaïese sonkragstelsel wat sedert 2021 bedryf word, wek 35-persent van die winkelsentrum se elektrisiteitsbehoeftes op. Die projek is ‘n betekenisvolle stap in Kaapstad se strewe na energie-onafhanklikheid.
# En ten slotte: Sterftes weens hitte in Europa kan teen die einde van die eeu verdriedubbel, veral in lande soos Italië, Griekeland en Spanje. Dit is volgens ʼn studie wat in Lancet Public Health gepubliseer is ná ʼn vlaag versengende hittegolwe die vasteland getref het. Hitte-verwante sterftes in Europa staan tans op 44-duisend. Navorsers waarsku sterftes in warm weer kan 129-duisend sterftes per jaar veroorsaak as die temperatuur styg tot drie grade Celsius bo die vlakke voor die nywerheids-era.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….