Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Sasol het bevestig sy gasvoorsiening uit die suide van Mosambiek aan nywerheidskliënte in Suid-Afrika word met ‘n jaar verleng tot Junie 2027. Dit is ‘n oorbrugging na invoere van vloeibare natuurlike gas. Uitvoerende hoof Simon Baloyi beklemtoon haalbare gasvoorsiening aan nywerheidskliënte sal verminder namate reserwes opraak. Hy bevestig Sasol se aanlegte in Sasolburg en Secunda sal steeds gas ontvang tot die middel-2030’s. Sasol is intussen besig om die oprigting van ‘n terminaal vir die invoer van natuurlike gas in Maputo te bespreek om volgehoue voorsiening tydens die oorgang te verseker.
# Solarise Africa het ‘n belegging van 160-miljoen-rand van Mergence Investment Managers bekom vir oplossings vir hernubare energie op kommersiële en nywerheidskaal. Die befondsing sal die maatskappy in staat stel om sy nywerheidsprofiel uit te brei en sake-ondernemings te help met die oorskakeling na betroubare, skoon energie. Die uitvoerende hoof van Solarise Africa, Jan Albert Valk, sê die geld sal hoofsaaklik gebruik word om kragstelsels vir kommersiële en nywerheidskliënte te installeer en uit te brei om te help om die koste van energie en die koolstofvoetspoor te verlaag.
# En ten slotte: Die DA in Mpumalanga het kommer uitgespreek nadat duisende dooie visse ontdek is op ‘n visplaas wat deur die regering ondersteun word. Die plaas spesialiseer in die teling van blou-kurpers. Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings wat die ontdekking gedoen het, sê daar is geen verhittingstelsels nie, wat die watertemperatuur ver onder die 17- tot 25-grade Celsius-vlak gelaat het wat blou-kurpers nodig het om te gedy. Tersia Marshall van die DA sê dit beklemtoon die wyer implikasies vir voedselsekerheid en volhoubaarheid van die omgewing:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….