Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Somkhanda-wildreservaat in die noorde van KwaZulu-Natal het ‘n renoster-onthoringsveldtog van stapel gestuur om die toenemende stropingskrisis die hoof te bied. Die reservaat in gemeenskapsbesit en die tuiste van die Groot Vyf, was in 2007 die eerste om swartrenosters deur die Wêreldfonds vir die Natuur se projek vir die bevordering van swartrenosters te verwelkom. Die jongste onthoringsveldtog is ‘n groot stap vorentoe, nie slegs vir die reservaat nie, maar ook vir renosterbewaring in die provinsie, waar 325 renosters verlede jaar gestroop is.
# Die Weerdiens het ‘n vlak 1-waarskuwing uitgereik vir skadelike wind in die suidelike Namakwastreek van die Noord-Kaap, en die Sentrale Karoo in die Wes-Kaap vir vandag. ‘n Kuswind tussen Kaap Columbine en Plettenbergbaai word môre verwag. Voorspellers sê die naderende koue front wat die Wes-Kaap uit die suidweste nader, kan byna stormsterkte wind meebring, met rukwinde van 70- tot 90-kilometer per uur. Dit kan skade in nedersettings aanrig en kleiner vaartuie laat omslaan. Die diens waarsku motoriste om versigtig te bestuur.
# En die Europese skoonenergie-voorstandersgroep, Transport and Environment, waarsku oor die omgewingsuitwerking van die snelgroeiende wêreldwye passasiersbootbedryf. Die grootste passasierskepe wat teen 2050 te water gelaat kan word sal byna agt keer groter wees as die Titanic. Passasierskepe en ander vaartuie is glo elke jaar verantwoordelik vir byna drie-persent van wêreldwye gasvrystellings. Die groep sê die spoed waarteen die passasiersbootbedryf floreer, kom teen ‘n prys vir die omgewing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….