Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad het ‘n plastiek ontwikkel wat in kompos omskep kan word of bio-afbreekbaar is. Dit is om die plastiekbedryf te help om sy kweekhuisgas-uitlatings te verminder en bio-gebaseerde bedrywe te help. Doktor May John van die WNNR sê die doel is om enkelgebruik-plastiekprodukte wat nie herwin kan word of hergebruik word nie, of wat besmet is, met alternatiewe te vervang wat bio-afbreekbaar is of in kompos omskep kan word. John sê die grootste voordeel van plantgebaseerde plastiek is dat dit die koolstofvoetspoor verminder en dat dit herwin kan word.
# Sowat een uit elke vyf kinders wêreldwyd leef in gebiede wat minstens twee-keer soveel uiterste warm dae elke jaar beleef, vergeleke met sestig jaar gelede. Dit is volgens ‘n ontleding van die Verenigde Nasies se Internasionale Kinderfonds, UNICEF. Verlede jaar was by verre die warmste jaar op rekord, en wetenskaplikes verwag dat wêreldwye temperature nog verder kan styg. UNICEF het bevind altesaam 123-miljoen kinders, of 39-persent van kinders in Afrika, ervaar temperature van meer as 35 grade Celsius oor ‘n gemiddeld van vier maande elke jaar.
# En ten slotte: Amptenare in Spanje ondersoek die sangeres Katy Perry vir die verfilming van ‘n musiekvideo in ‘n ekologies sensitiewe duingebied in die Beleariese Eilande sonder toestemming. Die video vir haar jongste enkelsnit, Lifetimes, toon die sangeres op die eilande Ibiza en Formentera. Tonele wat glo in die middel van die beskermde duine van die onbewoonde eiland S’Espalmador in Formentera verfilm is, het veral kommer gewek. Die duine in privaat besit is van groot omgewingswaarde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….