Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp op Klimaatsverandering onderteken. Dit maak voorsiening vir die ontwikkeling van doeltreffende optrede teen klimaatsverandering en ‘n langtermyn, billike oorgang na ‘n lae-koolstof en klimaatveerkragtige ekonomie en samelewing. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die Wet op Klimaatsverandering is ook gemik op die verbetering van Suid-Afrika se vermoë om mettertyd kweekhuisgas-uitstralings te verminder en klimaatveerkragtigheid op te bou:
# Twee plekke in die Wes-Kaap is vir Wêrelderfenisstatus benoem. Dit is die Diepkloof-rotsskuiling naby Elandsbaai en die Pinnacle Point-kompleks in Mosselbaai. Die Sibhudu-grot in KwaZulu-Natal is ook benoem. Die Wes-Kaapse LUR vir Kulturele Aangeleenthede en Sport, Ricardo Mackenzie, sê wanneer plekke se benoemings suksesvol is, word dit ingevolge die Wêrelderfeniskonvensie beskerm en op die Wêrelderfenislys geplaas:
# En ten slotte: Natuurlewe-misdaad, veral vetplant-diefstal, neem toe in die Wes-Kaap. Die provinsie is die tuiste van meer as 52-persent van Suid-Afrika se blomspesies. Dit maak die provinsie ‘n gewilde teiken vir onwettige vetplant-handel, veral na Oos-Asië. Volgens 2023 se Stand van Bioverskeidenheids-verslag het 38-persent van die gevalle in 2022/23 met vetplant-diefstal verband gehou. Cape Nature sê hy het as deel van ʼn geïntegreerde reaksie ʼn projek begin om onwettige handel in vetplante en ernstige natuurlewe-misdaad te bekamp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….