Eko-minuut 13:30
BULLETIN 19 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Sitruskwekersvereniging het sy kommer uitgespreek oor die ernstige uitwerking van die onlangse oorstromings op sitrusproduksie in die Wes-Kaap. Dit volg nadat al die toegangspaaie na Citrusdal weggespoel en die dorp afgesny is. Skade weens die vloede word op meer as 430-miljoen-rand geraam. Die vereniging se voorsitter, Gerrit van der Merwe, benadruk vinnige en doeltreffende ondersteuning van die provinsiale regering. Noodmaatreëls is getref, insluitend ‘n privaat brug, maar die padverbinding moet dringend herstel word om noodsaaklike sitrus-uitvoere te ondersteun.
# Veldbrande gaan al hoe meer in Suid-Afrika voorkom, want klimaatsverandering veroorsaak temperatuur-stygings en minder reën. KwaZulu-Natal het reuse-veldbrande gehad wat tot die dood van minstens 12 mense gelei en 14-duisend hektaar veld vernietig het. Volgens navorsing deur professor Tracy-Lynn Field van die Department van Omgewings- en Volhoubaarheidswetgewing aan die Universiteit van die Witwatersrand is sowat 84-persent van alle menslike nedersettings in die land in brand-afhanklike ekostelsels geleë. Sy sê die hoofoorsaak van veldbrande sluit in baie droë en warm toestande, sterk wind en droë plantegroei.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet ‘n groen vervaardigingsektor skep wat groen waterstof en verwante produkte, elektriese voertuie en onderdele vir hernubare energie uitvoer as die land oorgaan na hernubare energie. Hy het met die Parlementsopening gesê werk is aan die gang om ʼn spesiale ekonomiese sone in Boegoebaai in die Noord-Kaap te vestig om belegging in projekte met groenwaterstof-energie te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….