Eko-minuut 13:30
BULLETIN 30 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Kragtige aardbewing met ‘n meting van 8,8 het Rusland se verre oostelike Kamchatka-skiereiland getref wat gelei het tot tsoenami-waarskuwings in dele van Moskou, Japan, die Amerikaanse Weskus, die Filippyne en Indonesië. Verskeie mense is beseer terwyl owerhede waarsku oor sterk naskokke. Die skiereiland het reeds die afgelope tien dae ‘n reeks aardskokke ondervind. Nieu-seeland se rampbestuursagentskap waarsku intussen die land se kusgebiede kan sterk en ongewone seestrome en onvoorspelbare golwe verwag.
# Amerika se Omgewingsbeskermingsagentskap wil ‘n besluit terugtrek om kweekhuisgasse te reguleer en klimaatsverandering te beveg. Dit sal ʼn verklaring van 2009 ophef dat koolstofdioksied en ander kweekhuisgasse openbare gesondheid en welstand in gevaar stel. Amerika stel die tweede meeste kweekhuisgasse vry en daar word aanvaar dat dié land die meeste aardverwarmingsbesoedeling veroorsaak. Omgewingsgroepe dreig met regsoptrede en voer aan die opheffing het nie ʼn wetenskaplike of regsgrondslag nie.
# En ten slotte: SANparke vier môre Wêreldnatuurbewaarderdag in die Tafelberg-nasionale park in Kaapstad. Die dag is ‘n geleentheid om bewaarders wat in die uitvoering van hul pligte dood of beseer is, te herdenk en te vereer, en hul toewyding aan die bewaring en beskerming van die land se natuurlike en kulturele erfenis te vier. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, is ook deel van die geleentheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….