Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum sê hy bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag aangesien swaar reën, oorstromings en skadelike stormwind vandag en môre kan voortduur. Sowat 14-duisend strukture is beskadig sedert die eerste kouefront die Wes-Kaap Maandag getref het, wat ‘n uitwerking gehad het op sowat 15-duisend mense regoor die provinsie. Skole in die Kaapse Wynland- en Overberg-onderwysdistrikte bly gesluit, terwyl Eskom se tegniese spanne 24-uur per dag werk om krag te herstel na verskeie gebiede, insluitend dele van Mosselbaai en Worcester.
# Die Koolstofgrens-aanpassingsmeganisme van die Europese Unie veroorsaak ontsteltenis in ontwikkelende lande, insluitend Suid-Afrika. Die aanpassing teiken yster, staal, kunsmis, aluminium, sement en elektrisiteit. Kritici is van mening hierdie aanpassing dien as ‘n handelsversperring en verhinder ontwikkelende lande se vermoë om te ontkool. Met Afrika se afhanklikheid van uitvoere na die Europese Unie kan die aanpassing ‘n noemenswaardige invloed op uitvoere hê, wat uitvoere moontlik kan verminder en die bruto binnelandse produk raak. Voorstanders vra billiker maatreëls en toenemende steun vir volhoubare ontwikkeling.
# En laastens: China bou byna twee keer soveel wind- en sonkragaanlegte as alle ander lande saam. Daar is tans 339 gigawatt vermoë in aanbou, wat 159 gigawatt windkrag en 180 gigawatt sonkrag insluit. Global Energy Monitor sê China is op koers om teen die einde van die jaar een-duisend-200 gigawatt geïnstalleerde wind- en sonkrag op te wek, wat ses jaar voor die regering se teikendatum is. China is die wêreld se tweede grootste ekonomie, maar stel die meeste kweekhuisgasse vry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….