Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Agri Wes-Kaap sê hoewel die huidige gure weer oes- en infrastruktuurskade kan aanrig, is die reën broodnodig. Die provinsie ondervind swaar reën wat tot oorstromings, sterk wind en sneeu gelei het. Jannie Strydom van Agri Wes-Kaap sê die reën maak die groot opvanggebiede vol wat noodsaaklik is vir gewasse soos koring, kanola, gars en hawer. Hy voeg by boere is dankbaar vir die reën ondanks moontlike skade in laagliggende gebiede.
# Revego-fondsbestuurders wil sowat drie-miljard-rand insamel om in hernubare energieprojekte te belê. Al tien van die fonds se beleggings tot dusver is in Suid-Afrika, wat die grootste hernubare energiebedryf in Afrika suid van die Sahara is. Die fonds het verlede jaar in ‘n sonkragaanleg van 150 megawatt in die Vrystaat belê wat die eerste een is wat krag aan verskeie privaatkopers sal verskaf. Ziyaad Sarang van die fonds sê die streek benodig meer as drie-duisend-miljard-rand in hernubare energiebeleggings teen 2031.
# En die Amerikaanse Internasionale Finansieringskorporasie het ‘n lening van sowat 1,83-miljard-rand goedgekeur om Mosambiek se eerste windkragaanleg te finansier. Die projek wat ongeveer 50 kilometer wes van Maputo gebou word, sal vanjaar finansieel afgesluit word. Die korporasie sal ook 1,4-miljard-rand in politieke risikoversekering aan Globeleq Africa gee wat die aanleg van 120 megawatt ontwikkel. Mosambiek is hoofsaaklik van ‘n enkele hidro-elektriese skema afhanklik vir kragopwekking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….