Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die SPAR-groep sê hy is daartoe verbind om sy koolstofvrystellings te verminder, maar voeg by die hele bedryf moet saamwerk om verandering teweeg te bring. ‘n McKinsey-studie het onthul sowat 93-persent van die vrystellings is buite die kruidenier se regstreekse beheer. Die voedselstelsel dra by tot meer as 30-persent van die wêreld se kweekhuisgas-vrystellings. ʼn Woordvoerder van SPAR, Kevin O’Brien, sê hulle wil dit aanpak deur saam met boere te werk, verskaffers se pogings te ondersteun en volhoubaarheid bevorder.
# Alseno Kagiso Mosai van die Universiteit van Pretoria waarsku dat jong kinders in Krugersdorp, Gauteng, uraan-, arseen- en kwikdampe inasem wat van verlate myne af kom. Hy en ander kenners het ʼn artikel geskryf waarin hulle ʼn gemengde benadering aanbeveel wat bekostigbaar en doeltreffend is vir vinnige optrede in Krugersdorp. Mosai sê die mynmaatskappye wat vir die besoedeling verantwoordelik is, is dikwels nêrens te sien nie. Dan moet die regering fondse verskaf om die suurwater-deinering op te ruim om inwoners te beskerm.
# En ten slotte: ‘n Nuwe Suid-Afrikaanse maatskappy wat die gebruik van radio-aktiewe korrels bevorder om renosterstropers af te skrik, The Rhisotope Project, het byna 18-miljoen-rand se waagkapitaal nodig om die tegnologie te kommersialiseer. Die korrels is verlede maand ingeplant in 20 renosterhorings in ‘n finale toetsfase. Die projek het begin by die Universiteit van die Witwatersrand en wil stropers afskrik en onwettige horinghandel opspoor. Toekomstige uitbreidingsplanne sluit die beskerming in van olifante, ietermagôe en ander natuurlewe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….