Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se Rampbestuur-woordvoerder, Gerhard Otto, sê samewerking is die sleutel om praktiese modelle te vind om klimaatsverandering te bekamp. Hy het op die Klimaatsverandering- en Omgewingsbestuurs-indaba in George in die Wes-Kaap gesê die provinsiale regering het ‘n klimaatsveranderings-reaksie- en inwerkingstelling-strategie ontwikkel. Otto sê dis daarop gemik om teen 2050 ʼn klimaat-veerkragtige provinsie sonder koolstofvrystellings te wees:
# Die Stad Tshwane in samewerking met die Gautengse Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en die Omgewing het ʼn unieke veldtog van stapel gestuur om onwettige vullisstorting te keer en voedselsekerheid te verseker. Meer as 650 onwettige stortingsbrandpunte is reg oor die metro geïdentifiseer. Die stad se woordvoerder, Sipho Stuurman, sê hulle wil in die 2024/25-boekjaar 13 groentetuine aanplant as hulle goedkeuring kry om ‘n geïdentifiseerde brandpunt te gebruik. Hy sê onwettige storting bly ʼn probleem en het ʼn negatiewe uitwerking op mense en die omgewing.
# En ten slotte: St Vincent en die Grenadine se eerste minister, Ralph Gonsalves, het die afwesigheid van ‘n politieke wil in Wes-Europa en Amerika veroordeel om die wêreldwye klimaatskrisis vas te vat. Dit volg nadat die orkaan Beryl die suidoostelike Karibiese eiland Carriacou bereik het. Gonsalves sê meer geld word benodig van lande wat groot vrystellers van kweekhuisgasse is. Amerika se Nasionale Weerdiens sê tot sewe groot orkane kan vanjaar oor die noordelike Atlantiese Oseaan voorkom teenoor die gemiddeld van drie per seisoen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….