Eko-minuut 13:30
BULLETIN 29 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die rampspoedige oorstromings in Durban in April 2022 wat 544 lewens geëis het, is deur klimaatsverandering vererger. Dit is volgens ‘n nuwe studie van die Universiteit van die Witwatersrand. ʼn Klimaatbydrae-model op kilometer-skaal is gebruik. Dit boots die storm na in vandag se warmer klimaat teenoor ʼn wêreld sonder mensegemaakte aardverwarming. Drie belangrike faktore wat groter reënval veroorsaak is geïdentifiseer. Dit is ʼn warmer atmosfeer wat veroorsaak word deur kweekhuisgasse, die Agulhas-seestroom wat die afgelope dekades warmer geword het en veranderings in windpatrone wat meer vogtige lug oor KwaZulu-Natal invoer.
# Uit China word berig dat swaar reën oorstromings en grondstortings in en om Beijing veroorsaak en meer as 30 lewens geëis het, terwyl talle mense nog vermis word. Meer as 80-duisend mense moes hervestig word, insluitend in die Miyun-distrik wat die swaarste getref is. Die reën het tientalle paaie beskadig en 136 dorpe sonder elektrisiteit gelaat. Die hoofstad het sy strengste oorstromingswaarskuwing uitgereik. China se president, Xi Jinping, het amptenare beveel om ʼn dringende soek- en reddingsveldtog te begin na mense wat vermis word, inwoners wat in gevaar is te laat ontruim en ongevalle te beperk.
# En ten slotte: ‘n Rooipanda-tweeling is in ‘n dieretuin op die Isle of Wight in die suide van Engeland gebore nadat die ouers verledejaar aan mekaar voorgestel is. Die tien-jaar-oue ma, Xiao, is gepaar met ‘n 10-maande oue mannetjie, Flint, wat van Belfast se dieretuin ingevoer is. Die welpies sal in die nesbokse bly tot hulle minstens drie maande oud is. Die bedreigde spesie leef in die oostelike Himalajas en China met getalle wat dramaties afneem. Rooipandas word gejag vir hulle pels, gevang in slagysters en bedreig deur ontbossing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….