Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Aardverwarming hou ‘n beduidende risiko in vir Suid-Afrika se landbou- en mynbousektore. Dit is volgens PwC Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig vir Junie. Stygende temperature kan ‘n uitwerking hê op water vir besproeiing, landbou-verwerking en die ontginning en verwerking van mineraal-erts. PwC beraam 24-persent van mielies-, 35-persent van koring- en 84-persent van die rysproduksie sal teen 2035 erg deur hitte-uitputting geraak word. PwC SA se hoofekonoom, Lullu Krugel, sê produsente moet hul veerkragtigheid verbeter deur klimaatrisiko’s te identifiseer en te bestuur.
# Water- en koeldrankbottels wat van poliëtileen-tereftalate gemaak is, sink in die see tensy daar lug in is. Die proppe word gemaak van polimere wat kan dryf en lang afstande kan aflê. Dit is volgens navorsers van die FitzPatrick Instituut vir Afrika-voëlkunde aan die Universiteit van Kaapstad en die Nelson Mandela Universiteit. Navorsers het meer as 13-duisend-200 proppe op 20 strande aan Suid-Afrika se suidwes-kus bymekaar gemaak. Die studie het bevind op die meeste strande was meer proppe as bottels as gevolg van die manier waarop dit dryf en versprei.
# En ten slotte: Die DA in die Vrystaat sê die onlangse projek om riool-terugvloei te hanteer in Stateway in Welkom se middestad, bring hoop na die Goldfields-winkelsentrum en nabygeleë sakeondernemings. Die middestad het gesukkel met ‘n rioolpyp wat in die Goldfields Casino se parkeergebied ingestort het en erge terugvloei-probleme veroorsaak. René Steyn van die DA sê aanvanklike optimisme oor die projek het egter vervaag nadat Matjhabeng se burgemeester, Thanduxolo Khalipha, ingemeng het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….