Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Bewaringsgroepe waarsku dat die Afrika-pikkewyn teen 2035 uitgewis kan wees indien daar nie spoedig opgetree word nie. Hulle het met regstappe teen die staat begin om die gebied te beskerm waar dié voëls hul kos vandaan kry. Pikkewyngetalle het die afgelope eeu met 97-persent gedaal en minder as tien-duisend broeipare is oor. Hul beperkte toegang tot prooi is die grootste rede ir die krisis, omdat hulle met vissersbote moet meeding wat voortdurend sardyne en ansjovis by die ses grootste broeikolonies vang waar nagenoeg 90-persent van Suid-Afrika se pikkewyne voorkom. Die saak is vir Oktober op die rol geplaas.
# Dit is Nasionale Omgewingsmaand en The Glass Recycling Company het persoonlike beskermingstoerusting aan 172 vullisherwinnaars in Meadowlands, Soweto, geskenk. Dit sluit maskers, handskoene en gesigskerms in om hulle veiligheid te verseker. Die uitvoerende hoof, Shabeer Jhetam, beklemtoon die belangrikheid om hierdie werkers te ondersteun as deel van die organisasie se verbintenis tot volhoubaarheid en maatskaplike verantwoordelikheid. Die maatskappy wil bewustheid skep oor herwinning en vullisherwinnaars se welstand en veiligheid bevorder.
# En, Eskom het sy appèlsaak gewen om vyf van sy oudste aanlegte in bedryf te hou ondanks dreigende uitstralingsbeperkings. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, het aangekondig die aanlegte kan tot Maart 2030 onder die huidige beperkings werk, wat hulle vrystel van die strenger beperkings in 2025. Eskom moet binne ‘n jaar planne indien om Hendrina, Grootvlei, Arnot, Camden en Kriel uit diens te stel. Eskom, wat voldoeningskoste van 300-miljard-rand in die gesig staar, sê hy bestee miljarde aan besoedelingskwessies en trek finansieel noustrop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….