Eko-minuut 13:30
BULLETIN 14 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Nasionale Tesourie sê hy werk hard aan ‘n proefmodel wat die privaat sektor kan betrek by meer beleggings in hernubare energiebronne. Die regering het tot die slotsom gekom dat privaat finansies en vermoëns vereis word as Suid-Afrika ‘n groter netwerkinfrastruktuur wil vestig om meer hernubare energiebronne te ontsluit. Dit sluit onder meer een-duisend-400-kilometer per jaar se nuwe kraglyne in tot 2032. Die Tesourie se adjunk-direkteur-generaal, Mmakgoshi Lekhete, sê hulle wil ook 1,5-duisend-miljard-rand se beloftes ontsluit wat vir die Billike Energieoordrag-beleggingsplan gemaak is.
# Pick n Pay, in samewerking met die E-afval-herwinningsowerheid, het weer elektroniese afval-herwinningsdromme by sy winkels geplaas om die wêreldwye kwessie rondom e-afval aan te pak. Daar is tans 29 dromme in winkels in Gauteng en KwaZulu-Natal, met meer wat beplan word vir die Vrystaat, die Wes-Kaap en ander streke. Die projek is gemik op die verantwoordelike wegdoening van elektroniese toestelle, volhoubare praktyke en werkskepping. Die dromme is gemaak vir ‘n wye verskeidenheid goedere, van kabels en selfone tot groter toestelle soos wasmasjiene.
# En, Tafelberg het nou beroemdheid verwerf as Suid-Afrika se besigste en gewildste stapomgewing en ‘n wêreldbrandpunt vir Instagrammers. Explore Worldwide se peiling het sy gewildheid aan die lig gebring, met een-duisend-189 Instagram-plasings per kilometer van die staproete, wat dit sewende op die wêreldranglys plaas. Dit is in vergeleke met die wêreld se besigste staproete, Berg Kinabula in Maleisië, met meer as 22-duisend Instagram-plasings per kilometer. Die Inca-staproete na Machu Picchu in Peru is in die tweede plek met ses-duisend-723 plasings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….