Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die energiemaatskappy Hive Hydrogen se beplande ammoniak-aanleg in die Coega-nywerheidsontwikkelingsone in Gqeberha in die Oos-Kaap gaan groen nywerheidsontwikkeling en ekonomiese diversifikasie aanhelp. Die aanleg van 105-miljard-rand gaan van 2029 meer as ‘n miljoen ton ammoniak per jaar vir uitvoer vervaardig. ‘n Hernubare energie-aanleg van drie-duisend-700 megawatt is ook deel van die eerste fase. Die belegging in die eerste fase van die aanleg sal lei to die skepping van 20-duisend regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede in Nelson Mandelabaai.
# Italië word as G7-leier versoek om te sorg dat lidlande hul beloftes oor klimaatsfinansiering aan Afrika nakom. Dit is die mening van die oud-president van Malawi, Joyce Banda. Sy het verwys na sikloon Freddy wat verlede jaar tot die dood van meer as duisend mense gelei het, met meer as 650-duisend Malawiërs wat dakloos gelaat is. Twee miljoen boere het hul oeste verloor en meer as duisend-500 stuks vee het gevrek. Banda sê ‘n G7-ooreenkoms moet begin met die betaling van die beloofde geld sodat lande soos Malawi ná klimaatsrampe kan herstel.
# En ‘n nuwe studie het bevind plastiekprodukte met helder kleure breek gouer af na mikroplastiek as dié met ‘n neutrale kleur. Navorsers aan die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Leicester het bevind kleure soos rooi, blou en groen versnel die afbreek van plastiek, en verhoog moontlik omgewingsbeskadiging. Die bevindings, gegrond op dakblootstelling en strandmonsters, beteken vervaardigers moet dalk die gebruik van sekere kleurstowwe heroorweeg om mikroplastiek-besoedeling teen te werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….