Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n goed ontwikkelde kouefront met groot bolug-ondersteuning sal die naweek aansienlik kouer dagtemperature in dele van die land tot gevolg hê. In die hoogliggende suidelike dele van die Noord-Kaap, die sentrale binneland, en die sentrale Karoo van die Wes-Kaap kan die maksimum temperatuur onder tien-grade Celsius bly. Sneeu word in sewe provinsies verwag, wat Gauteng en die Oos-Kaap insluit.
# Die Kaapstad-streek sal as gevolg van klimaatsverandering waarskynlik droër word, en studies toon ʼn aansienlik groter risiko vir droogtes wat dieselfde gevare as Dag Zero inhou. Dit is volgens die klimaatnavorsers Sabina Abba Omar en Stefaan Conradie. Sowat 70-persent van die uiterste winterreënval oor Kaapstad vind plaas wanneer kouefronte in atmosferiese riviere gekanaliseer word. Die navorsers sê tydige en wydverspreide waarskuwings is noodsaaklik wanneer storms verwag word.
# En water-aktiviste sê die besoedelingsaanwysers van die Rietspruit- en Hennopsriviere wat deur Centurion in Gauteng vloei, is ‘n groot bron van kommer. Tagtig-persent van die drinkwater wat verbruik word, kom van rivierstelsels oral in die land, maar die meeste van hulle is besoedel. ‘n Aktivis, Tarryn Johnston, sê riviere ondervind ‘n rioolkrisis en het ‘n nes van misdadige bedrywighede geword. Sy voeg by gesondheidsgevare neem toe wanneer besoedelde water gebruik word as drinkwater, vir gewasbesproeing, en vir was- en ontspanningsdoeleindes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….