Eko-minuut 13:30
BULLETIN 30 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Indiese hoofstad, Delhi, het gister sy hoogste temperatuur ooit van 52,9 grade Celsius aangeteken terwyl ‘n intense hittegolf en watertekort voortduur. Meer as 37 stede in dié land het dié week temperature van hoër as 45 grade Celsius aangemeld. Waarskuwings oor hitteverwante siektes is uitgereik met minstens drie sterftes wat tot dusver aangemeld is. Navorsing toon die klimaatskrisis veroorsaak hittegolwe wat langer duur, meer dikwels voorkom en meer intens is.
# Johannesburg is een van drie stede wat sal baat by die projek, Scaling Urban Nature-Based Solutions for Climate Adaptation in Sub-Saharan Africa, of SUNCASA. Die projek van drie jaar sal baanbrekende herstelprosesse en aanpassings onderneem in die Goudstad, Dire Dawa in Ethiopië en Kigali in Rwanda. In Johannesburg sluit dit in die verwydering van indringerspesies, aanplant en heraanplant van woude, en die herstel van die Jukskeirivier se opvanggebied om oorstromings te verhoed en watergehalte te verbeter.
# En, die Gardens for Good-veldtog het Kaapstadse gemeenskappe ondersteun deur met die hulp van duisend-765 mense meer as drie-duisend-700 plante en 220 bome aan te plant. Agt skole en openbare ruimtes in die stad het gebaat toe noodsaaklike groen gebiede geskep is. Die projek gee nuwe lewe aan stedelike landskappe deur inheemse plante te vestig, dit bevorder ekostelsel-dienste en verbeter gemeenskappe se welstand. Groen ruimtes bevorder lug- en watergehalte, reguleer temperature en ondersteun geestes- en fisiese gesondheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….