Eko-minuut 13:30
BULLETIN 21 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Nywerheidsgasverbruikersvereniging sê dapper, maar goedeurdagte besluite is nodig om so gou moontlik in gasenergie in Suid-Afrika te belê. Dit volg te midde van Sasol se beoogde verlaging in gasproduksie teen 2026. Dit kan tot ‘n potensiële gaskrisis lei en die land se ekonomie tot 500-miljard-rand per jaar kos. Jaco Human van die vereniging sê natuurlike gasoordrag ondersteun die land se program om van steenkool ontslae te raak:
# Die Globale Bioverskeidenheids-raamwerkfonds het nuwe toelaes vir projekvoorbereiding goedgekeur en meer as 1,2-miljard-rand geoormerk vir 18 nuwe projekte in 21 lande, insluitend Suid-Afrika. Dit sal baie van die Bioverskeidenheidsplan se teikens bevorder. Dit sluit ondersteuning in aan meer as agt-miljoen-hektaar beskermde land- en see-gebiede. Die befondsing aan Suid-Afrika sal gebruik word vir die beskerming van nasionale parke. Die Globale Omgewingsfonds se uitvoerende hoof, Carlos Manuel Rodríguez, sê die toelaag-goedkeuring getuig van toewyding om bioverskeidenheids-verlies, klimaatsverandering en besoedeling te takel.
# En Tshwane se Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap sê voorbereidings is op dreef vir die eerste jaarlikse Tshwane-energieberaad volgende maand. Die metro hoop die beraad sal sy energie-aksieplan aan die gang kry om sy energie-uitdaging te verlig. Tshwane het ‘n ambisieuse doelwit om teen 2026 een-duisend megawatt se energievryheid van Eskom te bereik. Die agentskap sê beleidshervormings en infrastruktuurontwikkeling soos sonpanele is deurslaggewend vir die metro om energie-onafhanklik te raak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….