Eko-minuut 13:30
BULLETIN 20 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# KwaZulu-Natal se regering beplan om die land se grootste energieopwekkingsterrein in die Richardsbaaise Nywerheidsontwikkelingsone te vestig. Die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake, Sibuniso Duma, het aan ‘n afvaardiging van die privaat en openbare energiesektor gesê dit sal bydra tot nuwe kragopwekkings-vermoë. Hy sê die aanleg sal fokus op hernubare energie, energiedoeltreffendheid, sonkragtegnologie, windturbines en energiebergings-komponente:
# ‘n Gegradueerde van die Universiteit van KwaZulu-Natal, Vincent Piki, het sy kommer uitgespreek oor die ontoereikende wetgewing teen die verspreiding van mikro-plastiekbesoedeling in die wêreld se oseane. Piepklein stukkies plastiek, wat nie met die blote oog sigbaar is nie, raak die groei en voortplantingsgesondheid van see-organismes. Piki sê vullis in plastieksakke beland gewoonlik op stortingsterreine en die mikroplastiek-oorblyfsels dryf af in waterstrome, insluitend rioolstelsels en beland in riviere en oseane. Hy voeg by Suid-Afrika takel tans die probleem van mikroplastiekbesoedeling.
# En, nuwe regulasies tree vandag in werking om te verseker die Europese Unie neem groter verantwoordelikheid vir sy afval. Die nuwe Afvalvervoerregulasie bepaal strenger reëls vir die uitvoer van afval na lande wat nie aan die EU behoort nie. Die uitvoere het sedert 2004 met 72-persent toegeneem, wat verlede jaar op 35-miljoen-ton per jaar te staan gekom het. Die nuwe regulasies maak ook voorsiening vir groter afskrik-maatreëls vir misdadigers wat by onwettige afvalhandel betrokke is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….