Eko-minuut 13:30
BULLETIN 15 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Green Connection en Natural Justice benadruk die noodsaaklikheid dat besluitnemers die langtermyn gesondheid van mariene-ekostelselsels en die welsyn van gemeenskappe wat daarvan afhanklik is, voorop moet stel. Die omgewingsorganisasies het verlede week voorleggings oor die hersiene omgewingsuitwerking-evalueringsverslag vir olie- en gas-verkenningsregte in Blok 3B/4B ingedien. Liziwe McDaid van Green Connection sê die projek aan die Weskus hou gevaar in vir die ekostelsel en kusgemeenskappe. McDaid sê die uitwerking van stortings, selfs gering, kan rampspoedig wees.
# Die Wes-Kaapse regering sê damvlakke lyk goed terwyl die winter naderkom. Die jongste syfers toon die ses grootste damme in die provinsie, Bergrivierdam, die twee Steenbrasdamme, Theewaterskloof-, Voëlvlei- en Wemmershoekdam staan gemiddeld op 61,3-persent. Dis effens laer as die 62-persent die vorige week. Theewaterskloof, wat meer as 50-persent van die provinsie se totale dam-vermoë het, se vlak is 60,8-persent. Die tweede grootste dam, Voëlvlei, staan op 51,2-persent.
# En die jongste Misdaadverslag van die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad toon wildsmokkelary het die afgelope twee dekades feitlik onveranderd gebly. Volgens die verslag het smokkelary meer as vier-duisend spesies geraak. Transnasionale groepe in georganiseerde misdaad speel uiteenlopende rolle in die smokkelnetwerke en buit regulatoriese swakhede uit. Die verslag toon ook dat korrupsie wetstoepassingspogings ondermyn. Die verslag vra konsekwente toepassing, instelling van wetgewing asook monitering, wat die behoefte aan verbeterde data en geteikende ingrypings beklemtoon. Dit sluit in om smokkelaars ingevolge korrupsiewetgewing te vervolg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….