Eko-minuut 13:30
BULLETIN 23 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Noorweegse maatskappy vir hernubare energie, Scatec ASA, sê hy is vasberade om die hernubare vermoë in Suid-Afrika uit te brei, ingevolge Suid-Afrika se energie-oorgang-beleid. Scatec ASA het status as voorkeurbieër vir 846 megawatt sonkrag vir die Kroonstadse fotovoltaïese groep. Dit is vir die sewende ronde van die program vir die Verkryging van Hernubare Energie van Onafhanklike Kragprodusente in die Vrystaat. Dit sal uit drie sonkragaanlegte bestaan. Scatec ASA het die regering se verbintenis geloof om skoon, veilige en bekostigbare energie te verkry.
# Die Stad Kaapstad sê sy eerste sonkragaanleg van 200-miljoen-rand in Atlantis is byna voltooi. Altesaam 12-duisend-850 sonkragpanele sal teen die einde van die jaar krag by die plaaslike netwerk voeg. Die aanleg sal as gemengde aanleg saam met die metro se eerste batteryberging op nutskaal bedryf word en agt megawatt lewer. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê hierdie projek het belê in die verbetering van die plaaslike arbeidsmag se vaardighede en om sakegeleenthede in die hernubare-energiesektor te skep.
# En ten slotte: ‘n Alge-opbloei het die Suid-Australiese kuslyn groen verkleur en tot groot seelewe-vrektes gelei. Die premier van die staat, Peter Malinauskas, sê die verskynsel is ‘n natuurramp wat volgens wet as sodanig verklaar moet word. Die alge-opbloei kom natuurlik voor, maar word veroorsaak deur die verwarming van die oseane, see-hittegolwe en die besoedeling van voedingsbronne in die see – alles regstreekse gevolge van klimaatsverandering. Die alge-opbloei het in Maart begin, is reeds twee maal groter as die oppervlak van die Australiese Hoofstadgebied en het dooie seediere aan die kus laat uitspoel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….