Nuus 09:00
BULLETIN 14 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ses van die 32 slagoffers in George is uitgeken
# ’n Aktivis vra vir ‘n verskoning ná die verbranding van die Grondwet
# En swem: Die Agentskap teen Verbode Middels hou ’n buitengewone vergadering oor die Chinese swemmers
# Die George-munisipaliteit sê die Forensiese Patologiediens en die polisie werk so vinnig moontlik om die werkers uit te ken wat verlede week dood is toe ‘n gebou ingetuimel het. Twee-en-dertig werkers is dood en 20 word nog vermis. Die munisipaliteit sê ses slagoffers is positief uitgeken deur vingerafdrukke, DNS-toetse en foto’s. Hy sê hulle ondervind egter probleme om die regte name van vermiste individue of oorledenes te kry.
Cosatu het die regering intussen gevra om baie vinnig op te tree om geregtigheid te verseker vir die slagoffers, oorlewendes en families van die George-ramp waar die gebou ingetuimel het. Volgens die amptelike syfers is 32 werkers dood en word 20 nog vermis ná die intuimeling. Matthew Parks van Cosatu sê die polisie moet die werkgewer en al die medepligtiges in hegtenis neem en laat aankla vir die kwaadwillige skending van arbeidsweging wat die ongekende ramp tot gevolg gehad het:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê die politieke ontleder Xolani Dube moet om verskoning vra vir die verbranding van die Grondwet. ‘n Sosiale media-video wys hoe Dube klaarblyklik die Grondwet vernietig. Makaneta sê Dube se beweerde optrede weerspreek grondwetlike beginsels en vra respek vir die rol daarvan in die beskerming van demokrasie en geregtigheid. Hy kritiseer Dube vir die ondermyning van grondwetlike vryheid en onderwysgeleenthede vir beide landsburgers en buitelanders.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, het ‘n tweeparty-wetsontwerp onderteken om invoere van uraan uit Rusland wat hoofsaaklik in kernkrag-aanlegte gebruik word te verbied. Rusland, die wêreld se top verskaffer van verrykte uraan, voorsien nagenoeg 20-persent van al Amerika se kernbrandstof. Die verbod op invoere vir kragstasies tree oor 90 dae in werking. Die wetsontwerp bied tot 2028 kwytskelding aan nutsdienste wat hul kernreaktors sal moet sluit sodra die voorraad uit Rusland opgedroog het.
# Swem: Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels, Wada, sê hy hou Vrydag ʼn buitengewone vergadering om die saak van 23 Chinese swemmers te bespreek wat positief getoets het vir voorskrif-hartmedikasie. Die organisasie het in April onder skoot gekom nadat dit aan die lig gekom het die swemmers het voor die Tokio-spele in 2021 positief getoets vir trimetazidien, maar is steeds toegelaat om deel te neem. Die middel kan prestasie verhoog. Wada sê hy kon nie die Chinese Agentskap teen Verbode Middels se bevinding weerspreek dat die toetse weens besmetting misluk het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-545-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….