Nuus 08:00
BULLETIN 15 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Senior FNB-ekonoom sê inkopies het in 2023 met 1% gedaal
# Die polisie soek na rowers ná ‘n transito-rooftog in Hammanskraal
# En, gholf: Lombard lei ‘n sterk Suid-Afrikaanse groep in die Dimension Data Pro-Am
# ‘n Senior ekonoom by FNB, Siphamandla Mkhwanazi, sê inkopies het verlede jaar met een-persent gedaal vergeleke met 2022 wat dui op ʼn laer aanvraag deur verbruikers. Dit sal waarskynlik in die komende termyn voortduur weens hoë inflasie en rentekoerse, en swak verbruikersvertroue. Volgens Mkhwanazi behoort die heersende streng uitleenstandaarde en hoë koste van skuld die toename in krediet redelik in toom te hou. Dit geld vir die bank- en ander sektore en verskaf dus minder ondersteuning aan verbruik:
‘n Belastingkenner, Charles de Wet, sê intussen hy voorsien geen verhogings in belasting op toegevoegde waarde of welvaartbelasting in die 2024-begroting, om die tekort van 15-miljard-rand te help verlig nie. Hy lê klem op doeltreffende belastinginvorderingsmetodes, digitalisering en bestedingsdissipline. Terwyl die insameling van persoonlike inkomstebelasting en BTW met agt-persent gestyg het, het korporatiewe belastinginvordering met 14-persent gedaal. De Wet is gekant teen ‘n BTW-verhoging, en stel ‘n drempelverhoging tot twee-miljoen-rand voor vir maatskappy-BTW-registrasie. Hy verwag sondebelastingverhogings, maar meen daar sal geen korporatiewe belastingkoers-aanpassings wees nie, en sê wêreldwye mededingendheid is baie belangrik.
# Die polisie in Gauteng het ʼn soektog begin na verdagtes wat verbind word met ʼn transito-rooftog naby die Mandela-sportkompleks in Hammanskraal. Die polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê die bestuurder van die geldwa en sy twee bemanningslede het van die N1 afgedraai en in Hamman-weg in Hammanskraal gery toe ʼn groep gewapende verdagtes met ʼn Mercedes Benz C180 in hulle vasgery het:
# Drie mense is gearresteer nadat skote tydens Super Bowl-vierings in Kansas City afgevuur is. Een persoon is dood en minstens 21 ander is beseer. Drie mense met ernstige wonde word in hospitale in die stad behandel terwyl sewe ander se beserings lewensbedreigend is. Die polisie sê hulle moet nog vasstel wat die motief vir die skietery was, maar plaaslike wetstoepassers het aan CBS News gesê dis nie terreur-verwant nie. Die Super Bowl-wenners, Kansas City Chiefs, sê nie een van hulle spelers is in die skietery beseer nie.
# Gholf: Zander Lombard is deel van ʼn groep fikse Suid-Afrikaanse beroepspelers wat vandag by die toonaangewende Dimension Data Pro-Am by Fancourt afslaan. Lombard se spel is op ʼn goeie peil en hy het ʼn loopbaan-beste van 100 op gholf se amptelike wêreldranglys. Hy het sedert verlede jaar se Joburg Ope in sewe van sy laaste agt toernooie onder die top-16 geëindig. Oliver Bekker is ook terug om sy titel te verdedig en wil Dimension Data Pro-Am-geskiedenis maak deur die eerste speler te word wat toernooi drie keer wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-384-dollar-10-sent. Die prys van goud is een-duisend-990-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….