08:00 Nuus
BULLETIN 23 Oktober 08:00
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staande komitee oor Toewysings wil hê die Ouditeur-Generaal se kantoor moet bemagtig word
# AfriForum sê die nie-betaling van TV-lisensies is ‘n teken dat die SAUK geprivatiseer moet word
# En die Gautengse DA-leier daag Panyaza Lesufi uit om die waterkrisis te debatteer
# Die parlementêre staande komitee oor Toewysings sê die Ouditeur-generaal se kantoor moet versterk word om fondse wat deur vrugtelose en verkwistende uitgawes vermors is, te ondersoek. Ses-en-dertig staatsdepartemente het die afgelope vyf jaar 1,48-miljard-rand verkwis en 27 instellings in staatsbesit meer as twee-miljard-rand. Die komitee-voorsitter, Mmusi Maimane, sê die Ouditeur-generaal moet sy magte gebruik en skuldsertifikate uitreik aan die vyf top- rekenpligtige amptenare van die betrokke departemente. Hy voeg by dit sal beter nakoming verseker.
# AfriForum het sy oproep herhaal dat die SAUK geprivatiseer word en sê dis die enigste volhoubare manier om die openbare uitsaaier te laat voortbestaan. Die uitsaaier het onthul minder mense as ooit het die afgelope jaar hul TV-lisensies betaal. Dit sluit lisensies in van sowat twee-duisend-500 televisiestelle wat aan staatsdepartemente behoort, wie se uitstaande lisensieskuld byna 35-miljoen-rand beloop. Ernst van Zyl van AfriForum sê die SABC het nou ‘n geleentheid om aan sy bestaanskrisis te ontsnap:
# Die DA-leier in Gauteng, Solly Msimanga, daag premier Panyaza Lesufi uit tot ʼn openbare debat oor die provinsie se waterkrisis. Die provinsiale regering het tot Maart volgende jaar vlak een-waterbeperkings ingestel om water te spaar. Gauteng verloor meer as 40-persent skoon water weens onwettige verbindings en lekkasies. Msimanga sê die waterkrisis se kern-oorsaak is die provinsiale regering se onvermoë om voorkeur te gee aan die ontwikkeling van ʼn infrastruktuur-meesterplan:
# Abercrombie and Fitch se voormalige uitvoerende hoof, Michael Jeffries, sy vennoot Matthew Smith, en tussenganger James Jacobson is gearresteer en aangekla dat hulle ʼn prostitusie- en internasionale sekshandeloperasie bedryf. Jeffries was van 1992 tot 2014 dié modemaatskappy se uitvoerende hoof. Die aanklaer vir New York se Oostelike Distrik, Breon Peace, sê volgens die aanklag het Jeffries na bewering sy mag en invloed gebruik om jong mans te teiken wat drome het om die mode- en modelwêreld te werk:
# Krieket: Die Lions het die Titans met sewe paaltjies geklop om Sondag die T20-uitdaagtoernooi-eindstryd te haal. Die Titans was op 115 almal uit met Nqaba Peter wat vier paaltjies laat kantel het. In antwoord het Reeza Hendricks en Rassie van der Dussen op die tweede paaltjie ʼn vennootskap van 92 behaal en die Lions het die teiken gehaal met net drie paaltjies plat. Vandag takel die Noordwes Drake en Westelike Provinsie mekaar in ʼn uitspeelwedstryd. Die wenner en die Titans speel in Vrydag se tweede kwalifiserende wedstryd om te bepaal wie die Lions in die eindstryd gaan aanvat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-960-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-743-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….