Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 17 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die regering het die onlangse bevindings van Intelpoint-navorsing verwelkom wat Suid-Afrika as die tweede mees geletterde land in Afrika gradeer, met ’n volwasse geletterdheidsyfer van 95-persent. Die Seychelle is boaan die lys met ’n geletterdheidsyfer van 95,9-persent. Die navorsing is gegrond op die persentasie van die bevolking van 15 jaar en ouer wat kan lees en skryf. Regeringswoordvoerder Nonkululeko Mtshali sê hierdie merkwaardige prestasie is ‘n bewys van die doeltreffendheid van die land se progressiewe onderwysbeleide:
# ‘n Derdejaar student in Geïntegreerde Kommunikasie-ontwerp aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Mufaro Ncube, het die ROTOCON wynetiket-ontwerpkompetisie vir 2025 gewen. Die kompetisie daag studente uit om vernuwende en gevorderde wynetikette te ontwerp. Ncube se wenontwerp word The Point genoem en is geïnspireer deur ‘n topografiese kaart van Kaapstad wat op die ontwerp uitstaan. Die 21-jarige het prysgeld van 30-duisend-rand ontvang en sal ook in Mei op die WineLand Media 30 Under 30-toekennings vereer word.
# Die Groote Schuur-hopsitaaltrust in Kaapstad het ‘n noodoperasieprojek van stapel gestuur om hulpbronne te versterk en traumabehandeling te verbeter. Die trust wil 70 noodteaterbesprekings oor naweke en openbare vakansiedae byvoeg om verhoogde traumagevalle te bestuur. Indien dit slaag, sal sowat 200 bykomende operasies uitgevoer kan word. Die trust het reeds meer as 300-duisend-rand deur skenkings ingesamel om die eerste drie maande van die projek te befonds. ‘n Bykomende 1,86-miljoen-rand word benodig om die projek na Junie te kan volhou.
# Die aktrise en regisseur Campbell Meas van Johannesburg is die wenner van 2025 se Nasionale Dramaturgkompetisie met haar drama Vakavigwa (Burials/They were buried). Die kompetisie wat deur die Nasionale Kunstefees aangebied word, wil hê opkomende dramaturge landwyd se stemme moet gehoor word. Die beoordelaars sê Vakavigwa is ‘n aangrypende en ambisieuse werk wat die ontwikkeling van die hedendaagse teater beklemtoon. Meas se drama maak sy buiging in Junie op die Nasionale Kunstefees in Makhanda in die Oos-Kaap.
# En ten slotte: Die komediant Nate Bargatze is aangewys as seremoniemeester vir die 77ste Emmy-toekennings in die Peacock-teater in Los Angels op 14 September. Hy het verlede jaar die meeste geld as komediant verdien en 1,2-miljoen kaartjies verkoop. Bargatze het tot nou ses spesiale vertonings vrygestel met die onlangse Your Friend, Nate Bargatze op Netflix. Hy sê dis ‘n groot eer om so ‘n ikoniese geleentheid aan te bied en hy is opgewonde om ‘n aand te skep wat deur alle mense oral in die wêreld geniet kan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….