NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 18 Januarie 2 nm
Goeiemiddag,
Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Vrystaatse regering en die Nasionale Finansiële Studentehulpskema het in Bohlokong, Bethlehem, saamgespan om ‘n blink en voorspoedige toekoms vir die provinsie te skep. Hulle sê hierdie toekoms kan nie verwesenlik word as dit bepaal word deur ‘n ontmagtigde en onopgevoede jeug nie. Die veldtog se doel is om seker te maak sy leuse, “Open deure vir onderrig en laat geen kind agter nie”, word ‘n werklikheid op elke vlak van opvoeding, insluitend by instellings van hoër onderwys.
# ‘n Kaapstadse familie-onderneming wat in stedelike landbou spesialiseer, het hul uitgebreide aanleg bekend gestel wat groter voedselvoorsiening en meer werksgeleenthede vir Philippi en die groter Kaapstad sal bring. Die onderneming is in 2005 met ‘n paar kilogram groente en ‘n honderd hoenders begin. Hulle vervaardig nou honderde kilogramme groente en lewer daagliks gemiddeld nege-duisend eiers. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, glo die toekoms van voedselsekerheid lê in stedelike landbou:
Speel klankgreep: ENG VosONUrbanFarms
# Vanjaar se appel- en peer-seisoen in die Wes-Kaap is in volle swang en boere sien uit na ‘n goeie oes. Die woordvoerder vir Hortgro, Jacques du Preez, sê winterreën wat baie nodig was, het genoeg water vir besproeiing verseker. Daarmee saam het jong boorde wat die eerste keer vrugte gedra het, gelei tot ‘n groter oesskatting vir uitvoere. Ses-persent meer appels en agt-persent meer pere gaan waarskynlik vanjaar in die Wes-Kaap geoes word.
# Die wêreld se grootste bekende geslypte diamant gaan na verwagting sowat 77-miljoen-rand haal wanneer dit vroeg volgende maand opgeveil word. Die Enigma, wat as die grootste deftige swart diamant van natuurlike kleur beskryf word, word van gister af in Dubai ten toon gestel. Dit sal ook in Los Angeles en Londen te sien wees voor Sotheby’s se sewedaagse aanlyn veiling op 3 Februarie begin. Die edelsteen van 555-karaat is in 55 vlakke geslyp en die vorm is gegrond op die Midde-Oosterse palm-vormige simbool van mag en beskerming.
# Die seeskilpad-rehabilitasiespan van die Twee Oseane-akwarium se onderwysstigting in Kaapstad het 44 seeskilpaaie sowat 30 seemyl suid van Houtbaai vrygelaat. ‘n Woordvoerder, Renee Leeuwner, sê die seeskilpaaie het almal die afgelope paar maande by die Twee Oseane-akwarium herstel nadat hulle op Wes-Kaapse strande gevind is:
Speel klankgreep: ENG ReneeONTurtles
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….