Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 24 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Altesaam 32 ontvangers, insluitend die teen-apartheidsaktivis Peter Cyril Jones en Fulco van Aurich van Nederland, sal komende Dinsdag Nasionale Ordes tydens ‘n seremonie ontvang. ‘n Nasionale Orde is die hoogste toekenning wat die president aan burgers en vooraanstaande buitelanders kan gee. Jones, ’n stigterslid van die Swart-bewussynsbeweing, sal die Orde van Luthuli in Goud postuum ontvang. Van Aurich sal die Orde van die Metgeselle van OR Tambo in Silwer ontvang vir sy bydrae tot die bewusmaking van menseregteskendings deur die apartheidsregering.
# Elf navorsers van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie is deur die 26ste Nasionale Wetenskap- en Tegnologie-forum vir toekennings benoem. Dit is die belangrikste toekenning vir navorsing en vernuwing in Suid-Afrika. Professor OJ Okonkwo is drie keer benoem – vir Wetenskapsdiplomasie vir Afrika, Leeftyd, en Data vir Navorsing-toekenning. TUT se visekanselier, Tinyiko Maluleke, sê die elf se erkenning is die vrug van die universiteit se doelbewuste bevordering van navorsing en probleemoplossing.
# Die Iziko-museums van Suid-Afrika bied Saterdag op Vryheidsdag gratis toegang tot sekere museums. Dit sluit in die Bo-Kaap Museum, die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, die Slawelosie en die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad. Die Iziko-museums van Suid-Afrika sê mense kan van die oggend negeuur tot vyfuur die middag die ryke kultuur- en geskiedkundige erfenis in ikoniese instellings gratis besoek.
# Die Kweek Lesers met Boeke-projek het sowat nege-duisend boeke by vroeëkinderjare-ontwikkelingsentrums in Gauteng, KwaZulu Natal en die Wes-Kaap versprei. Die veldtog wat jong kinders regstreekse toegang tot boeke wil gee, is verlede jaar bekendgestel. Book Dash se uitvoerende direkteur, Julia Norris, sê om boeke te deel, beteken nie net ‘n mens lees vir ʼn kind nie. Sy sê dis interaktief, volg die kind se belangstelling, en moedig hulle aan en prys hulle deelname.
# En, die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie gaan môre ‘n eredoktorsgraad aan die afrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, toeken. Sy is die suksesvolste afrigter in die geskiedenis van Suid-Afrika se vroue-sokkerspan en het die span in 2022 tot hulle eerste titel in die Vroue Afrikabekertoernooi gelei. Onder haar leierskap het die die span ook vir agtereenvolgende Vroue-Wêreldbekertoernooie gekwalifiseer. Die universiteit sê Ellis kry erkenning vir haar aansienlike prestasies wat haar in die boonste groep van sportlui in Afrika en die wêreld plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….