Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrika-hotelverslag het ‘n toename in hotel besettingsyfers in die Wes-Kaap tydens die 2023-vakansietydperk aangeteken. Data toon besettingsyfers het in Desember 73,4-persent bereik, ‘n styging vanaf 71,6-persent in Desember 2022. Vyfster-hotelle in Kaapstad het boonop dié in ander groot Suid-Afrikaanse stede oortref, met besettingsyfers op 69,1-persent. Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, sê die groei in hotel besettingsyfers is positief vir die provinsie se ekonomie en goed vir werkskepping.
# ‘n Kankerorganisasie, Cancervive, maak ‘n beduidende verskil in landelike gemeenskappe deur bystand te verleen aan kankerlyers tydens hul jaarlikse motorfietsrit van tien dae regoor Suid-Afrika. Meer as 60 kanker-oorlewendes, ondersteuners en bemanningslede sal hierdie veldtog aanpak en gebruik verskeie vorms van kommunikasie soos woorde, uitvoerende kuns, musiek, digkuns, dans en storievertelling om gehore te bereik. Die organisasie poog om taboes rondom die siekte af te breek, en ondersteuningstrukture te skep wat nodig is om gesprekke oor kanker te begin.
# Die Saartjie Baartman-sentrum vir Vroue en Kinders in Kaapstad herdenk 25 jaar van bystand aan 270-duisend oorlewendes van mishandeling. Direkteur Bernadine Bachar wys op die mislukking van die sektore vir strafreg en openbare gesondheid om diegene by te staan wat aanklop om hulp. Die sentrum bied opleiding in werksvaardighede, entrepreneursprogramme, berading en vroeë kinderontwikkelingsentra vir jong kinders. ‘n Tuisskoolsentrum is ook beskikbaar vir ouer kinders, regsbystand vir egskeidingsbevele en onderhoud, en verspreiding van kospakkies.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie sê studente is gereed om van vandag tot Vrydag gehore te betower met hulle teaterproduksie, June the 1st. Dis deel van die Universiteit van die Witwatersrand se O-Week-program. TUT sê onder regie van Msindisi Messiah Nxumalo, is June the 1st ‘n kragtige teatermeesterstuk wat toneelspel en dans naatloos ineen laat vloei om ʼn verhaal van diepsinnige menslike ervarings te vertel.
# En laastens: Die Universiteit van die Witwatersrand sê ‘n hele samelewingsbenadering is nodig om gesondheidskwessies aan te pak, soos bevolkings in Afrika ouer word. Longitudinal Studies in Suid-Afrika het sedert 2014 navorsing gedoen oor die uitwerking van MIV/VIGS, chroniese nie-oordraagbare siektes en onderliggende siektes op ouer mense in landelike dele van Mpumalanga. ‘n Wits-professor, Kathleen Kahn, sê hulle evalueer nou die behoefte aan voor-blootstelling en voorkomende behandeling onder mense ouer as 40. Kahn het bygevoeg aanvanklike ontledings dui aan 44-persent van mense in hierdie ouderdomsgroep kan by PrEP baatvind, gebaseer op huidige Suid-Afrikaanse riglyne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….