Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Judges Matter is baie ingenome met die aanstelling van Dire Tladi as die eerste permanente regter uit Suid-Afrika by die Internasionale Geregshof. Die Navorsings- en Voorspraakbeampte van Judges Matter, Mbekezeli Benjamin, is baie trots op Tladi se aanstelling en wys op die belangrikheid daarvan vir Suid-Afrika. Tladi is in November verlede jaar verkies deur die Algemene Vergadering en Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies en word vandag beëdig vir ‘n termyn van nege jaar:
# Die varsvoedsel- en koffie-kettingwinkel, Pret A Manger, kom na Suid-Afrika nadat ‘n mylpaalooreenkoms met die privaat aandeelmaatskappy, Millat Group, onderteken is. Pret A Manger is in 1986 in Londen gestig en bedryf tans meer as 700 winkels wêreldwyd. Millat Group se uitvoerende hoof, Hamza Farooqui, sê die eerste Pret A Manger-winkel sal hierdie kwartaal in Johannesburg open voor hulle in die komende maande na Kaapstad, Durban en Pretoria uitbrei. Hy sê hierdie vennootskap is in ooreenstemming met sy strategie om wêreldbekende handelsmerke na Suid-Afrika te bring.
# Suid-Afrika se digitale ouerskaps-opvoedingsplatform, MySociaLife, sal die land se eerste digitale ouerskapsklub onthul terwyl die wêreld vandag Wêrelddag vir Veiliger Internet herdenk. Die stigter, Dean McCoubrey, beklemtoon die belangrikheid daaarvan om ouers met die nodige kennis te bemagtig, ten einde hul kinders se digitale reis in die ontwikkelende digitale era te lei. Die platform is daarop gemik om die uitdagings van skermtyd en kunsmatige intelligensie aan te pak, en die toekoms vir kinders te bepaal. McCoubrey sê MySociaLife poog om ouers te voorsien van hulpbronne om die digitale landskap doeltreffend te bestuur:
# Die Universiteit van Suid-Afrika sê sy 15de aanbieding van die Unisa Internasionale Klavierkompetisie onlangs in Johannesburg was ‘n reusesukses. Pianiste van oor die hele wêreld, insluitend Duitsland, Frankryk, die VSA, China en België het aan die kompetisie deelgeneem. In die klassieke afdeling het Leo de María van Spanje met die louere weggestap, terwyl Dabin Ryu van Suid-Korea die jazz-afdeling ingepalm het. Die rektor en vise-kanselier van Unisa, professor Puleng LenkaBula, sê die kompetisie is ‘n bewys van die mag van musiek om verskillende kulture byeen te bring.
# En laastens: Die Randburg Harriers-atletiekklub maak gereed vir sy jaarlikse Valentynsdag-pretdraf wat volgende Vrydag plaasvind. Die nagwedloop van tien kilometer loop deur Randburg se mooiste gebiede en deelnemers moet 15 jaar of ouer wees. Die klub se woordvoerder, Buwi Moeketsi, sê deelnemers word aangemoedig om hulle bekoorlikste uitrustings aan te trek en te kyk wie Kupido se oog vang. Sy sê die geleentheid wil die gees van liefde en gemeensaamheid vier.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….