Nuus 08:00
BULLETIN 10 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA doen beroep vir dringende ingryping by die waterverskaffingskrisis
# Beurtkrag word tot 4 nm opgeskort
# En, rugby: die Blitsbokke pak Australië in die kwarteindronde van die Kaapstadse Sewestoernooi
# TLU SA doen ‘n beroep op die regering om dringend in te gryp by dorpe en stede in die land wat reeds watervoorsieningskrisisse ondervind. Die landbouliggaam sê die belangrikste bekommernis is waterbehandelingsaanlegte waarvan 64-persent in groot gevaar verkeer of krisisvlakke bereik het. Dit beteken gedeeltelik-behandelde of onbehandelde afvalwater beland in riviere en in die omgewing. Erika Helm van die TLU sê dit hou groot gevaar vir watergebruikers in want dit het ernstige gevolge vir mense se gesondheid, veral wat betref die uitbreking van cholera en chroniese diarree:
En nog landbounuus: die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, is bekommerd oor die mislukkings van die Kaapstadse hawe en die aansienlike impak wat dit op landbou-uitvoere het. Volgens die provinsiale Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme neem vragvolumes by die hawe toe en dit het die potensiaal om oor die volgende vyf jaar met 26-persent te groei. Maar die kapasiteit om bederfbare produkte betyds te vervoer, is besig om dramaties te verswak. Meyer het die ingrypings van die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, verwelkom:
# Eskom sê beurtkrag bly tot vieruur vanmiddag opgeskort. Dit is danksy ‘n verbetering in opwekkingsvermoë en voldoende noodreserwes. Die kragnutsmaatskappy sal vanmiddag die week se vooruitsigte bekend maak en enige moontlike veranderings aankondig. Intussen gaan die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramakgopa, die land vandag inlig oor onlangse verwikkelings ná die Kabinet se goedkeuring van die baanbrekerbenadering tot die finansiering van transmissie-infrastruktuur. Die ontwikkeling van transmissie-infrastruktuur is onontbeerlik vir die uitbreiding van die nasionale netwerk om volhoubare energiesekerheid te skep.
# Rugby: Na oorwinnings teen Groot Brittanje en Amerika het die Blitsbokke gisteraand by die Kaapstad-Sewestoernooi met 14-12 teen Ierland vasgeval om tweede in Groep A te eindig. Suid-Afrika kom vanoggend op 11:18 teen Australië te staan wat eerste in Groep C is na hy twee uit drie wedstryde gewen het. Die Vroue Springbok-Sewes het in hulle eerste groepwedstryd van die Kaapstadse ronde die onderspit gedelf. Hulle het met 34-0 teen Amerika, 40-0 teen Kanada en 29-7 teen Frankryk verloor. Die Suid-Afrikaners kom vanoggend teen Japan te staan in ‘n uitspeelwedstryd om die negende plek.
# En laastens: Amptenare van die Europese Unie het ‘n voorlopige ooreenkoms oor die wêreld se eerste omvattende wetgewing vir die regulering van die gebruik van kunsmatige intelligensie bereik. Na 36 uur se beraadslagings het onderhandelaars oor regulasies vir KI in stelsels soos ChatGPT en gesigsherkenning ooreengekom. Die Europese Parlement gaan vroeg volgende jaar oor die voorstelle vir KI-wetgewing stem, maar enige wette sal nie voor minstens 2025 in werking tree nie. Amerika, die Verenigde Koninkryk en China haas hulle ook om hulle eie regulasies te publiseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….