Nuus 08:00
BULLETIN 6 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fitch verwag Suid-Afrika se skuld en BBP sal oor die volgende twee jaar teen ongeveer 80-persent stabiliseer
# Die Kabinet verwelkom die rekordgroei in toerisme met besoekersgetalle wat skerp styg
# En, die vloedrisiko duur voort ondanks beter weer in die Wes-Kaap
# Die Fitch-graderingsagentskap verwag Suid-Afrika se skuld en bruto binnelandse produk sal oor die volgende twee jaar stabiliseer teen ongeveer 80-persent van die BBP. Dit sluit plaaslike owerheidskuld in, en is ver bo die 2027 ‘BB’-mediaan van 53-persent. Die agentskap sê skuldstabilisering is te danke aan verbeterde fiskale prestasie en voorraadvloei-aanpassings met onttrekkings op deposito’s en laer afslag by uitreiking, wat verbeterde marksentiment weerspieël. Fitch voorspel reële BBP-groei sal laag bly, maar effens toeneem van ‘n gemiddeld van 0,7-persent in 2023 tot 2024 en 1,1-persent in 2025 tot 1,4-persent in 2027, teenoor ‘n ‘BB’-mediaan van 4-persent.
# Die Kabinet het die sterk groei in Suid-Afrika se toerismesektor verwelkom, met internasionale aankomste wat in April byna een-miljoen besoekers bereik het, die hoogste maandelikse toename ooit. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die sektor se groei word ondersteun deur uitgebreide internasionale lugroetes, insluitend nuwe en beter vlugte uit Europa en Suid-Amerika. Ntshavheni het bygevoeg verbeterde veiligheid en wetstoepassing dra by tot verhoogde besoekersvertroue:
# Saftu is bekommerd oor die syfers wat die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, bekend gemaak het dat 17-duisend-450 van die 389-duisend-286 toegewysde poste vir onderwysers landwyd vakant is. Dit verteenwoordig nagenoeg 4,5-persent landwyd. Asive Dyani van Saftu sê dié syfers verteenwoordig duisende klaskamers waar leerders tans nie kan baat vind by ‘n bestendige onderwysstelsel met genoeg onderwysers nie. Saftu eis daarom dat alle vakante onderwysposte waarvoor begroot is onmiddellik gevul word:
# Die Wes-Kaapse regering sê weerstoestande begin verbeter na ‘n aantal dae van swaar reënval oor die Sentrale Karoo- en Tuinroete-distrikte. Inwoners word egter gevra om steeds versigtig te wees. Een sterfgeval is bevestig nadat ‘n persoon probeer het om ‘n oorstroomde rivier oor te steek. Hoë damvlakke en riviere in vloed hou steeds ‘n ernstige risiko vir laagliggende gebiede in. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê nooddienste bly op bystand, met humanitêre ondersteuning en infrastruktuurherstelwerk wat voortduur.
# Die Amerikaanse weermag sê hy het vier Iranese eenrigting-aanvalshommeltuie afgeskiet wat na die Straat van Hormoes gelanseer is. Dit volg enkele dae nadat Amerika en Iran mekaar aangeval het terwyl toenemende spanning die wankelende skietstilstand tussen die twee lande bedreig. Een persoon is dood en meer as 60 gewond in Iranse aanvalle op die Koeweit Internasionale Lughawe Woensdag. Langafstandaanvalle deur die VSA en Israel op 28 Februarie het konflik regoor die Midde-Ooste tot gevolg gehad en het veroorsaak dat die strategies-geleë Straat van Hormoes versper is, wat oliepryse wêreldwyd skerp laat styg het.
En ten slotte motorsport: Die sewemalige kampioen Lewis Hamilton het Vrydag sy Ferrari-spanmaat Charles Leclerc geklop en die vinnigste tyd in die tweede oefening vir Sondag se Monaco Grand Prix aangeteken. Na sy sterk tweede plek in Kanada, lyk dit asof Hamilton ‘n tweede asem gekry het. Hy het nuwe rekords in sy visier met ‘n 105de keer voorste wegspringplek en dalk ‘n 106de oorwinning. Hy het in Monaco in 2008, 2016 en 2019 gewen. Indien Hamilton Sondag goed vaar kan hy vir die agtste keer op die Monaco-podium beland en Ayrton Senna se rekord van agt ewenaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….