Nuus 17:00
BULLETIN 5 June 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa beskryf die bekendstelling van Lenacapavir as ‘n mylpaal in die stryd teen MIV/Vigs
# Die Sani-pas is gesluit weens swaar sneeu te midde van gure weer in KwaZulu-Natal
# En, FIFA stel ‘n Netflix Wêreldbeker-videospeletjie bekend vir die 2026-toernooi
# President Cyril Ramaphosa het die bekendstelling van Lenacapavir beskryf as ‘n vername draaipunt in Suid-Afrika se stryd teen MIV/Vigs. Hy het tydens die geleentheid in Secunda, Mpumalanga, gesê die deurbraak verteenwoordig ‘n oorwinning vir die wetenskap met hoop en vernuwing om lewens te red. Ramaphosa het die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, geloof vir Suid-Afrika se lisensie-ooreenkoms. Hy glo die land beweeg nader aan die einde van die MIV/Vigs-pandemie:
# Kwazikwakhe Sibiya van die Valke se Eenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaad in Durban ontken dat hy betrokke was by ‘n bedrogspul wat gelei het tot die verdwyning van 541-kilogram kokaïen van 200-miljoen-rand. Daar is in Junie 2021 beslag gelê op die dwelm, maar dit het uit die Valke se pakkamer in Port Shepstone verdwyn. Sibiya het aan Sandile Khumalo van die Madlanga-kommissie gesê hy het ‘n opdrag van senior offisiere uitgevoer:
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal sê gure weer beïnvloed verskeie dele van die provinsie, met swaar sneeu wat gelei het tot die sluiting van die Sani-pas. Reisigers wat op pad is na Lesotho word aangeraai om hul reise uit te stel totdat toestande verbeter. Senzelwe Mzila van die departement vra inwoners om verwarmingstoestelle veilig te gebruik en baie versigtig op die paaie te wees terwyl die ysige toestande voortduur:
# Olimpiese Spele: Casey Wasserman beplan nie om te bedank as voorsitter van 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles nie. Burgemeester Karen Bass het hom vroeër vanjaar gevra om te bedank weens sy vorige bande met Jeffrey Epstein se vertroueling, Ghislaine Maxwell. Wasserman sê hulle e-posboodskappe in 2003 was voor haar misdade bekend geword het. Maxwell dien ‘n vonnis van 20 jaar uit vir die handel in minderjarige meisies namens Epstein. Hy sê hy en Bass het ‘n gemeenskaplike doelwit om die beste Spele ooit aan te bied.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-932-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-422-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte, FIFA het die vrystelling van FIFA World Cup: Launch Edition aangekondig. Dit is ‘n nuwe sokkervideospeletjie wat op 11 Junie, saam met die begin van die 2026 FIFA Wêreldbeker, op Netflix Games beskikbaar sal wees. Die speletjie is eksklusief beskikbaar vir Netflix-intekenaars sonder ekstra koste en laat spelers toe om enige van al die 48 deelnemende lande te kies en by 16 toernooistadions mee te ding. FIFA sê die bekendstelling is deel van ‘n breër spelstrategie wat daarop gemik is om ondersteunerbetrokkenheid wêreldwyd uit te brei na die breek met EA Sports.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….