Nuus 14:00
BULLETIN 5 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom verwelkom ‘n gasvoorsieningsooreenkoms as ‘n mylpaal vir energiesekerheid
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra dringende hulp met die plasing van 30-duisend studente
# En rugby: Die Blitsbokke pak Brittanje, Kenia en Fidji in hulle groepswedstryde in Bordeaux
# Eskom verwelkom die ondertekening van ‘n gasvoorsieningsooreenkoms met Zululand Energy Terminal en beskryf dit as ‘n belangrike stap na grootskaalse gasaangedrewe kragopwekking. Raadsvoorsitter Mteto Nyati sê die ooreenkoms weerspieël Eskom se hernude fokus om Suid-Afrika se ekonomiese groei op ‘n volhoubare manier aan te vuur. Hy sê gas en hernubare energie sal mekaar aanvul om die betroubaarheid van die kragnetwerk te verbeter, dieselverbruik te verminder en die langtermyn-energie-oorgang ondersteun:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die voortdurende plasingskrisis in kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en -opleiding. Meer as 30-duisend studente wag steeds op opleidingsgeleenthede in die werksplek. Claude Naicker van die vakbond sê die probleem word vererger omdat hoër onderwys-instellings ongeveer 165-duisend studente se sertifikate terughou weens die toenemende skuldkrisis:
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die Internasionale Arbeidsorganisasie se Komitee vir die Toepassing van Standaarde se steun aan Suid-Afrika se pogings om gelyke indiensneming te bevorder. Dit volg ná ‘n saak deur Business Unity South Africa, waarin beweer word daar is nie geraadpleeg oor die Wet op Billike Indiensneming nie. Woordvoerder Matthew Parks sê die sleutel tot ekonomiese groei is om te verseker alle Suid-Afrikaners ontvang gelyke geleenthede om werk te kry.
# Rugby: Die Blitsbokke kom vanmiddag teen Brittanje te staan in hulle eerste groepswedstryd van die Sewes-Wêreldkampioenskapstoernooi in Bordeaux, Frankryk. Hulle volgende wedstryd is vanaand teen Kenia, en dan môre teen Fidji. Suid-Afrika is tans bo-aan die punteleer na hulle die eerste toernooi in Hongkong gewen en verlede naweek die eindstryd gehaal het in Valladolid, Spanje. Die reeks-kampioen word Sondag gekroon, met die Blitsbokke wat net die eindstryd moet haal om die titel in te palm.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-549-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-466-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige president van die Deutsche Bundesbank wat tans verbonde is aan die Guthe Universiteit in Frankfurt, het die ontslape president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Tito Mboweni, as ‘n patriot en ekonoom geprys. Axel Weber het op die eerste Tito Mboweni-gedenklesing die rol geprys wat hy gespeel het in arbeidshervormings en die bevordering van ekonomiese beleid. Hy sê Mboweni was ‘n voorstander van integriteit, ekonomiese insluiting en internasionale samewerking:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….