Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê vandag se vriendskaplike wedstryd teen Jamaika is die ideale geleentheid om taktiek uit te klaar voor Donderdag se eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Mexiko. Suid-Afrika kon nie oorwinnings behaal in sy laaste vier wedstryde nie. Die doelskopper-posisie is die grootste kwessie wat uitgestryk moet word. Bafana het teen Nicaragua 22 geleenthede verbeur om punte aan te teken. Broos sê Jamaika is ‘n sterk teenstander:
# Rugby: Die Blitsbokke kom vanmiddag teen Brittanje te staan in hulle eerste groepswedstryd van die Sewes-Wêreldkampioenskapstoernooi in Bordeaux, Frankryk. Hulle volgende wedstryd is vanaand teen Kenia, en dan môre teen Fidji. Suid-Afrika is tans bo-aan die punteleer na hulle die eerste toernooi in Hongkong gewen en verlede naweek die eindstryd gehaal het in Valladolid, Spanje. Die reeks-kampioen word Sondag gekroon, met die Blitsbokke wat net die eindstryd moet haal om die titel in te palm.
Nog rugbynuus: Die Nieu-Seelandse skeidsregter, James Dolman, sal in beheer wees van die Springbokke se openingswedstryd van die eerste Nasieskampioenskap, teen Engeland op Ellispark op 4 Julie. Sestien skeidsregters sal 18 wedstryde hanteer wat volgende maand in die Suidelike Halfrond gespeel sal word. Pierre Brousset van Frankryk sal die fluitjie blaas vir Suid-Afrika teen Skotland in Pretoria, met die Ier Andrew Brace wat toesig sal hou oor die wedstryd tussen die Bokke en Wallis in Durban. Die tweede deel van die kampioenskap sal in November in die Noordelike Halfrond gespeel word, met ‘n eindronde-naweek in Londen.
# Tennis: Die wêreld-nommer-114, Maja Chwalinska, se sprokie-veldtog op die Franse Ope duur voort met haar eerste Grand Slam-eindstryd. Die 24-jarige Pool het die 25ste gekeurde Rus, Diana Shnaider, geklop om die tweede kwalifiseerder in die Ope-era te word wat ʼn Grand Slam-eindronde haal, en die eerste op Roland-Garros. Sy kom te staan teen die Russiese tiener, Mirra Andreeva, wat ook deur is na haar eerste Grand Slam-eindstryd nadat sy die Oekraïner, Marta Kostyuk, verslaan het. Die 19-jarige Andreeva is die derde jongste vrou wat hierdie eeu die eindstryd haal.
# En laastens, motorsport: Formule Een sal tot in 2037 in Las Vegas aangebied word na hul kontrak met tien jaar verleng is. Die beroemde Nevada Strip, wat in 2023 sy eerste Grand Prix aangebied het, is saam met Austin en Miami een van drie Amerikaanse wedrenne op die program. F1 se president, Stefano Domenicali, sê die geleentheid het homself as ʼn gesogte bestemming gevestig met wonderlike wedrenne, vermaak van wêreldgehalte, sakeleiers van reg oor die wêreld en A-lys-bekendes. Red Bull- se renjaer, Max Verstappen, het die wedren in 2023 en 2025 gewen, en George Russell van Mercedes in 2024.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….