Nuus 09:00
BULLETIN 5 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal Lenacapavir vandag vrystel
# Adjunkminister Nel doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om die Grondwet te verdedig
# En die Griekwastad-moordenaar se parool word herroep
# President Cyril Ramaphosa stel vandag die MIV-voorkomende inspuitbare medisyne, Lenacapavir, amptelik in Secunda, Mpumalanga, bekend. Die nuwe langwerkende antiretrovirale middel word twee keer per jaar per inspuiting toegedien en elke dosis bied ses maande lank beskerming. Die Presidensie sê die Lenacapavir-inentingsveldtog beklemtoon samewerking tussen die regering, burgerlike samelewing en die privaat sektor wat daartoe verbind is om MIV as bedreiging vir openbare gesondheid in Suid-Afrika te beëindig.
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, het die Grondwet as beide ‘n viering van Suid-Afrika se demokratiese prestasies en wekroep tot aksie beskryf. Hy het gister ‘n gesamentlike sitting van die Parlement toegespreek om die 30ste herdenking van die aanneming van die Grondwet te herdenk. Nel het Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle weer opnuut aan die Grondwet te verbind en aktief deel te neem om die land se demokrasie te versterk:
# Die Hersieningsraad vir Korrektiewe Toesig en Parool het die parool van die berugte Griekwastad-moordenaar teruggetrek. Hy is in 2012 skuldig bevind aan moord op sy ma, pa en jonger suster in hul plaashuis in Griekwastad in die Noord-Kaap. Hy is in Augustus 2014 skuldig bevind en tot 20 jaar tronkstraf gevonnis. Sy parool is vroeër vanjaar goedgekeur. ‘n Woordvoerder van die Departement van Korrektiewe Dienste, Euné Wessels, sê minister Pieter Groenewald het verskeie voorleggings uit die gemeenskap ontvang en het die besluit vir heroorweging terugverwys:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het die Wet op Ondersteuning aan Oekraïne goedgekeur. Dis belangrike wetgewing wat hulp aan Oekraïne verskaf terwyl sanksies teen Rusland ingestel word. Die wetgewing is met 226 teen 195 stemme aanvaar en kan sowat 16,2-miljard-rand vir sekuriteit en heropbou aan Oekraïne verskaf. Dit keur ook sowat 129-miljard-rand se lenings goed vir Kiëf se verdedigingsbedrywighede. Die wetgewing maak boonop voorsiening vir nuwe olie- en gas-sanksies teen Rusland. Die Republikein-geleide Senaat sal waarskynlik die wetsontwerp afkeur.
# Sokker: Die Spanjaard Andoni Iraola is aangestel as Liverpool se nuwe hoofafrigter en het ‘n tweejaar-kontrak geteken. Die 43-jarige Iraola vervang Arne Slot, wat slegs ʼn jaar nadat sy span die Premierliga-titel gewen het, afgedank is. Die voormalige afrigter van Bournemouth het die Cherries na ʼn sesde plek in die Premierliga en ʼn plek in volgende jaar se Europa-liga gelei. Iraola sê hy verstaan wat van hom verwag word, en is gereed vir die uitdaging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-120-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-440-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….