Nuus 18:00
BULLETIN 4 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Keniaanse president William Ruto beklemtoon dieper ekonomiese samewerking te midde van wêreldwye ekonomiese onsekerheid
# AfriForum kritiseer die regering se stilswye oor plattelandse geweld ná tien plaasaanvalle in Mei
# En, sekuriteitsmaatreëls word versterk in China vir die 37ste herdenking van die slagting op Tiananmen-plein
# Die Keniaanse president William Ruto het ‘n beroep gedoen vir dieper ekonomiese samewerking met Suid-Afrika te midde van wêreldwye ekonomiese onsekerheid en ‘n verswakking in samewerking tussen lande. Ruto het tydens sy staatsbesoek aan Suid-Afrika gesê die twee lande, as belangrike streeksekonomieë, het beduidende geleenthede om handel, belegging en nywerheidsontwikkeling uit te brei. Hy sê die ekonomieë vul mekaar aan en kan groter voordele vir burgers ontsluit met sterker integrasie, die skep van werksgeleenthede en die bevordering van welvaart in Afrika:
# AfriForum sê die regering swyg steeds oor landelike geweld, al is daar tien plaasaanvalle in Mei aangemeld. Die organisasie sê ook die aanvalle was uiters gewelddadig, met slagoffers wat aangerand, vasgebind en in sekere gevalle geskiet is, insluitend plaaswerkers in Limpopo. Ander voorvalle is in Delmas in Mpumalanga, Stellenbosch in die Wes-Kaap, en De Wildt in Noordwes aangemeld. Jacques Broodryk van AfriForum sê landelike gemeenskappe word steeds ernstig bedreig:
# Die eenheidsbevelvoerder van die Valke in KwaZulu-Natal, Gavin Jacob het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het ‘n opdrag aanvaar om ‘n groot beslaglegging van dwelms by die Valke-kantore in Port Shepstone te stoor omdat hy geglo het die fasiliteit was veilig. In reaksie op bewysleier Mahlape Sello se vrae, het Jacob gesê Brigadier Msizi Nyuswa het die stoorarea as ‘n kluis beskryf, wat hy as voldoende beskou het. Hy het volgehou dat hy niks onwettigs aan die opdrag gesien het nie:
# Owerhede in Beijing en Hongkong het verhoogde sekuriteitsmaatreëls ingestel terwyl China die 37ste herdenking van die onderdrukking van die Tiananmen-plein. Die betogings is aanvanklik aangevuur deur die dood van ‘n pro-hervormingsleier, maar studente het hul eise uitgebrei om die vryheid van spraak en media, demokratiese hervormings en ‘n einde aan regeringskorrupsie in te sluit. Staatsmedia het destyds berig ongeveer 300 is dood, waarvan die meeste soldate was en slegs 23 studente, maar menseregtegroepe en getuies sê daar was waarskynlik duisende slagoffers.
# Tennis: Flavio Cobolli span alles in in sy poging om die Franse Ope te wen, insluitend om die 14-malige Spaanse kampioen Rafael Nadal se gunstelingstort op Roland Garros te gebruik. Die tiende-gekeurde Italianer pak sy tiende-gekeurde landgenoot Matteo Arnaldi môre vir ‘n plek in Sondag se eindstryd. Cobolli het die Kanadees Felix Auger-Aliassime in die kwarteindronde geklop, terwyl Arnaldi deurgedring het toe nog ‘n Italianer, Matteo Berrettini, weens ‘n besering moes onttrek. Cobolli erken hy is effens bygelowig en sê hy gebruik hierdie week dieselfde stort, restaurant en spyskaart.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-141-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-498-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….