Nuus 17:00
BULLETIN 4 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Arbeid, Nomakhosazana Meth, tree in om Pick n Pay se aflegging van 22-duisend werkers te verhoed
# Die Wes-Kaap bly waaksaam met gure weerstoestande wat voortduur
# En sokker, Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, beskou die vriendskaplike wedstryde teen Japan as ‘n belangrike WAFCON-toets
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het ingegryp om te help om die aflegging van meer as 22-duisend werkers by Pick n Pay te verhoed. Dit volg ná ‘n vergadering tussen die onderneming, vakbonde en die regering. Die kleinhandelreus het verlede maand ‘n Artikel 189-kennisgewing uitgereik, wat gelei het tot raadplegings oor moontlike afdankings. Die Ministerie se woordvoerder Thobeka Magcai sê alle partye het ooreengekom om terug te keer na onderhandelings om alternatiewe vir afleggings te bespreek:
# Sakeleiers verklaar dat Johannesburg se bestuurs- en finansiële krisis ‘n nasionale bron van ekonomiese kommer geword het wat dringende optrede vereis. Business Leadership South Africa, Business for South Africa en Business Unity South Africa waarsku die stad, wat bykans 16-persent tot Suid-Afrika se bruto-binnelandse produk bydra, het ernstige uitdagings, met vervallende infrastruktuur, stygende skuld en dienslewering wat verswak. Hulle vra alle politieke partye en die regering om duidelike, befondsde planne voor te lê om die stad voor die plaaslike verkiesing bestendig te maak.
# Die Wes-Kaapse regering sê rampbestuurspanne bly op hoë gereedheidsgrondslag terwyl swaar reën steeds die Sentrale Karoo en Tuinroete beïnvloed. Die N1 by Leeu Gamka is gesluit weens oorstromings en verskeie ander paaie, insluitend die Molteno-pas en dele van die R328 ook gesluit is weens weerverwante skade. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê damme en riviere loop oor en kragonderbrekings is aangemeld in dele van die Tuinroete.
# Hongaarse owerhede het die uitdunning van drie-duisend varke gelas nadat Afrika-varkpes die eerste keer in mak varke aangemeld is. Die Nasionale Voedselketting-veiligheidsagentskap sê die virus, wat onskadelik is vir mense maar hoogs aansteeklik en dodelik vir varke, is op ‘n plaas in die ooste van die land aangemeld. Afrika-varkpes het van Afrika na Europa en Asië versprei en honderde-miljoene varke het gevrek, wat tot handelsbeperkings gelei en wêreldwye vleismarkte beïnvloed het.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê die span se agtereenvolgende internasionale vriendskaplike wedstryde teen Japan in Osaka Saterdag en Dinsdag sal ‘n belangrike toets wees voor die Afrikabeker-toernooi vir vroue. Sy glo die kragmetings sal help om haar span se taktiese dissipline, verdedigende organisasie en wedstrydfiksheid te beoordeel. Ellis sê Japan se balbesit-gefokusde styl bied ‘n ander uitdaging wat die spelers se aanpasbaarheid en geestelike krag sal toets:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-626-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-503-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….