Nuus 13:00
BULLETIN 4 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie verwyder wanbetalende munisipaliteite van Eskom se skuldverligtingskema
# Transnet voltooi ‘n belegging van vier-miljard-rand in Saldanabaai se ystererts-terminaal
# En rugby: Nege Suid-Afrikaanse spelers is ingesluit in die Verenigde Rugbykampioenskap se Elite-vyftiental
# Die Nasionale Tesourie het beëindigingsbriewe aan 13 munisipaliteite uitgereik en beplan soortgelyke stappe teen nog 14 omdat hulle nie aan die voorwaardes van die munisipale skuldverligtingsprogram voldoen nie. Die skema is in 2023 ingestel om munisipaliteite te help om opgehoopte geskiedkundige skuld aan Eskom te vereffen. Die Tesourie sê die nakoming staan op slegs 66-persent, terwyl munisipale skuld aan Eskom tot bo 111-miljard-rand gestyg het. Munisipaliteite wat geraak word, kan in die program bly as hulle ooreenkomste teken wat Eskom toelaat om elektrisiteitsfakturering en inkomste-invordering tydelik te bestuur.
# Transnet het die voltooiing van ‘n belegging van vier-miljard-rand in Afrika se grootste ystererts-uitvoerterminaal in Saldanhabaai aan die Weskus aangekondig. Die infrastruktuur-uitbreidingsprojek sluit ‘n swaardiens-tuimelaar in om spoorwaens af te laai. Die uitvoerende hoof van Transnet-haweterminale, Jabu Mdaki, sê die nuwe tuimelaar het na raming ‘n bydrae van 45-persent tot plaaslike inhoud gelewer, en ongeveer een-duisend-500 werksgeleenthede ondersteun tydens boubedrywighede. Hy sê die projek sal na verwagting breër ekonomiese voordele vir die hele ystererts-uitvoer-waardeketting inhou.
# Johannesburg se nooddienste is op hoë gereedheidsgrondslag terwyl ‘n kouefront vinnig oor Gauteng inbeweeg. Nat en koue weersomstandighede word van vandag vir die provinsie voorspel. Johannesburg kan ‘n maksimum- temperatuur van 15-grade Celsius verwag, met ‘n 86-persent kans op reën. Woordvoerder Robert Mulaudzi maan inwoners om versigtig te wees wanneer hulle verwarmers gebruik en vra dit moet nie sonder toesig gelaat word nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Kanadese premier, Mark Carney, sê sy Liberale regering gaan binnekort wetgewing instel oor dwangarbeid in voorsieningskettings. Amerika het nuwe tariewe van 10- tot 12,5-persent voorgestel vir meer as 60 lande wat hy sê nie aandag gee aan die invoer van goedere wat met dwangarbeid vervaardig is nie. Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger het ‘n heffing van tien-persent op Kanada voorgestel. Carney sê sy regering ondersteun die algehele doelwit om dwangarbeid te bekamp:
# Rugby: Nege Suid-Afrikaners is ingesluit in die Verenigde Rugbykampioenskap se Elite-vyftiental wat die organiseerders aangekondig en deur ‘n media-paneel benoem is. Die Stormers word verteenwoordig deur die losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu, die loskopstut Ntuthuko Mchunu en die agsteman Evan Roos, en die Bulle deur die haker Johan Grobbelaar, die slot Cobus Wiese en die skrumskakel Embrose Papier. Die ander Suid-Afrikaners is Ulster se vleuel, Werner Kok, en die heelagter Quan Horn en die flank Ruan Venter van die Leeus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-806-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-462-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….