Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Nege Suid-Afrikaners is ingesluit in die Verenigde Rugbykampioenskap se Elite-vyftiental wat die organiseerders aangekondig het. Die Stormers word verteenwoordig deur die losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu, die loskopstut Ntuthuko Mchunu en die agsteman Evan Roos, en die Bulle deur die haker Johan Grobbelaar, die slot Cobus Wiese en die skrumskakel Embrose Papier. Die ander Suid-Afrikaners is Ulster se vleuel, Werner Kok, en die heelagter Quan Horn en die flank Ruan Venter van die Leeus.
Nog rugbynuus: Die vleuel Donavan Don het Dewald Human vervang in die Springbok-sewesgroep vir die naweek se laaste Wêreldkampioenskaps-byeenkoms in Bordeaux, Frankryk. Human het verlede naweek in Spanje sy knie beseer en moes na Suid-Afrika terugkeer. Die Blitsbokke het die eerste toernooi in Hongkong gewen, maar in die eindstryd in Spanje teen Australië verloor. Suid-Afrika loop steeds voor met 38 punte, gevolg deur Argentinië en Australië.
Sokker: Iran se Wêreldbeker-groep sal Sondag in Mexiko aankom, waar hulle gedurende die toernooi gehuisves sal word en slegs vir wedstryde na Amerika reis. Hulle sal uit Turkye vertrek waar hulle ‘n oefenkamp bygewoon het. Spanning oor die oorlog tussen Amerika en Iran het volgens berigte die kwessie van Amerikaanse visums bemoeilik, wat die span gedwing het om hul basis van Arizona na Tijuana te verskuif. Iran se eerste Wêreldbekerwedstryd is teen Nieu-Seeland in Los Angeles op die 15de, gevolg deur Groep G-wedstryde teen België en Egipte.
# Gholf: Die sesmalige major-kampioen, Rory McIlroy, mik na sy heel eerste oorwinning op die PGA-toer se Gedenktoernooi wat vandag in Dublin, Ohio, begin. Die Noord-Ier se beste vertoning was in 2016 toe hy gelykop vierde was. McIlroy, wat in April agtereenvolgende Meesterstoernooi-seges behaal het, erken die uitleg van Muirfield Village bevorder nie noodwendig sy spel nie, en sê sy sukses sal afhang van hoe hy sy natuurlike spel kan aanpas:
# En laastens, tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, is in die Franse Ope se kwarteindronde uitgeskakel. Die Rus Diana Shnaider het haar verslaan en deurgedring na haar eerste Grand Slam-halfeindstryd. Shnaider speel teen die Poolse kwalifiseerder, Maja Chwalinska, wat met Anna Kalinskaya van Rusland afgereken het. In die mansafdeling het die Italianer Matteo Berrettini weens ‘n besering onttrek in die tweede stel van sy kwarteindstryd teen sy landgenoot, Matteo Arnaldi. Nog ʼn Italianer, Flavio Cobolli, het sy eerste Grand Slam-halfeindronde bereik toe hy die Kanadees Felix Auger-Aliassime geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….