Nuus 06:00
BULLETIN 4 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika is onder 60 lande wat nuwe Amerikaanse invoertariewe in die gesig staar
# Twee Iranse diplomate word beveel om Koeweit te verlaat
# En rugby: Canal + sal die Vrouewêreldbeker in Afrika suid van die Sahara uitsaai
[Uitspraak: Canal Ploes]
# Die VSA het ‘n omvattende nuwe stel invoertariewe vir 60 lande, insluitend Suid-Afrika, voorgestel omdat hulle nie die invoer van goedere wat deur dwangarbeid vervaardig is, aanspreek nie. Ingevolge die voorstel sal lande soos Suid-Afrika, China, Brittanje, Japan en Brasilië, bykomende tariewe van tot 12,5-persent moet betaal. Mexiko, Kanada en die Europese Unie sal ‘n bykomende tien-persent moet opdok. Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger-ambassadeur Jamieson Greer sê hulle verander die handelsvoorwaardes tussen Amerika en die res van die wêreld:
# President Cyril Ramaphosa het die regering se verbintenis tot die bestryding van korrupsie herbevestig, asook om die nalatenskap van staatskaping ten volle uit die weg te ruim. Ramaphosa het in reaksie op die debat oor die Presidensie se begrotingsrede in die Parlement gesê pogings is aan die gang om gesteelde openbare fondse te verhaal en instellings te versterk wat gedurende die staatskaping-era verswak is. Hy het verwys na meer as 17-miljard-rand wat reeds deur wetstoepassing teruggevorder is danksy die werk van die Staatskapingkommissie:
# Die vakbond Solidariteit sê die energiereguleerder Nersa se goedkeuring van ‘n spesiale elektrisiteitstarief vir Glencore-Merafe en Samancor ferrochroom-smelters sal korttermynbestendigheid verbeter en help om duisende werksgeleenthede te beskerm. Die vakbond sê die verlaagde kragtarief sal broodnodige verligting bied aan ‘n bedryf wat sukkel met hoë elektrisiteitskoste en wêreldwye mededinging. Cornelius van Leeuwen van Solidariteit waarsku egter die ooreenkoms is slegs ‘n tydelike oplossing en Suid-Afrika het steeds langtermyn-energiehervormings nodig.
# Die Wes-Kaapse regering het die onlangse xenofobiese geweld en intimidasie teen buitelandse burgers sterk veroordeel. Hy glo die aanvalle is onwettig, ondermyn openbare veiligheid en bedreig ekonomiese bestendigheid. Bemiddelaars is ontplooi om spanning te verlig en om verdere onluste te voorkom. Inwoners word aangespoor om geweld te verwerp en immigrasie-kwessies deur wettige kanale aan te spreek. Premier Alan Winde sê owerhede sal ten nouste met die polisie saamwerk om te verseker dat daar vinnig teen die skuldiges opgetree word:
# Koeweit se ministerie van Buitelandse Sake het twee Iranse diplomate beveel om die land binne 24 uur te verlaat en hulle as “persona non grata” verklaar. Dit volg nadat Iran Amerikaanse basisse in Koeweit en Bahrein, sowel as ‘n vaartuig naby die Straat van Hormoes, geteiken het. ‘n Indiese burger is dood en meer as 60 beseer in die Iranse hommeltuigaanvalle op Koeweit se internasionale lughawe. Iran se Islamitiese Rewolusiewagkorps sê die aanval was ‘n vergelding vir Amerikaanse aanvalle op ‘n Iranse olietenkskip en Qeshm-eiland. Die toename in aanvalle bedreig die skietstilstand tussen die VSA en Iran.
# Rugby: Die Franse uitsaaier Canal+ het ‘n ooreenkoms met Wêreldrugby bereik om die volgende Mans- en Vrouewêreldbekers en ander toernooie op SuperSport in Afrika suid van die Sahara uit te saai. Canal+ het onlangs die Multichoice-groep gekoop. Suid-Afrika en Zimbabwe sal die vasteland volgende jaar by die manstoernooi in Australië verteenwoordig, wanneer die toernooi na 24 spanne uitgebrei word. ‘n Nuwe formaat met ‘n ronde van 16 sal bekendgestel word. Die ooreenkoms sluit ook die Vrouewêreldbeker in Australië in 2029 in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-933-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-436-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….