Nuus 18:00
BULLETIN 3 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê die herstel van elektrisiteit- en vervoernetwerke vorder
# Adjunkpresident Paul Mashatile versoek ‘n voortgesette farmaseutiese vennootskap met die Aurobindo-groep in Indië
# En sokker, Spanje kanselleer die vriendskaplike wedstryd tussen die DRK en Chili uit vrees vir Ebola
# President Cyril Ramaphosa sê regeringshervormings begin vrugte dra, insluitend vordering in die vermindering van beurtkrag en die verbetering van belangrike infrastruktuur. Ramaphosa het tydens die debat oor die Presidensie se begrotingsrede in die Nasionale Vergadering aan lede van die Parlement gesê hernubare energie neem toe en nuwe beleggings in kragopwekking help om elektrisiteitsvoorsiening bestendig te maak. Hy het ook verbeterings in spoorweë en hawens uitgelig om die ekonomie te ondersteun:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het sterker bande gevra vir gesondheidsbeleggings tussen Suid-Afrika en die Aurobindo-groep van Indië. Mashatile het in Indië die onderneming se bydrae tot bekostigbare gesondheidsorg geprys en verdere beleggings in infrastruktuur, hernubare energie, logistiek en mynbou aangemoedig. Hy het ook vennootskappe met junior- en mynondernemings in swart besit aangemoedig om inklusiewe groei te bevorder. Mashatile beklemtoon die uitbreiding van plaaslike farmaseutiese produksie sal gesondheidsorg verbeter:
# Die bevelvoerder van die Valke in KwaZulu-Natal, Gavin Jacob, het enige betrokkenheid ontken by die diefstal van dwelms wat verband hou met die 541-kilogram kokaïenbeslaglegging in Port Shepstone. Jacob het voor die Madlanga-kommissie getuig hy was onbewus van sekuriteitsprobleme by die gebou voordat die voorval in November 2021 aangemeld is. In reaksie op kommissaris Mbuyiseli Madlanga se vraag het hy aan die kommissie onthul dat ‘n poligraaftoets hom vrygespreek het:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die regering is daartoe verbind om samewerking tussen munisipaliteite en tradisionele leierskapsinstellings te versterk. Hy het ‘n raadplegings-byeenkoms gelei tussen sy departement en die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers oor die Hersiene Konsep-witskrif oor plaaslike regering. Hlabisa sê die hersiening bied ‘n geleentheid om moontlikhede en middele te identifiseer wat die regering kan benut om samewerking tussen tradisionele en Khoi-San-leierskap en munisipale bestuur te versterk.
# Sokker: Die Spaanse owerhede het ‘n beplande internasionale vriendskaplike wedstryd in Spanje tussen die Demokratiese Republiek die Kongo en Chili gekanselleer weens kommer oor die Ebola-uitbraak in die DRK. Die wedstryd sou Dinsdag plaasvind as deel van die spanne se voorbereidings vir die Wêreldbeker-toernooi in Noord-Amerika. Plaaslike amptenare sê die besluit is as ‘n voorsorgmaatreël geneem na gesondheidsadvies. Die DRK, wat vir hul eerste Wêreldbeker-toernooi sedert 1974 gekwalifiseer het, sal voortgaan met voorbereidings in België voor die toernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-873-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-445-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….