Nuus 17:00
BULLETIN 3 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra vir optrede eerder as woorde in die debat oor die Presidensie se begrotingspos
# AfriForum verwelkom die Hooggeregshofbesluit dat matriekuitslae steeds gepubliseer word
# En sokker: FIFA bevestig alle spanne vir die Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa sê die regering moet verder beweeg as om slegs uitdagings te identifiseer en te fokus op die lewering van oplossings, met ‘n sterk klem op ekonomiese groei, werkskepping en verbeterde dienslewering. In reaksie op die debat oor die Presidensie se begrotingspos in die Parlement, het Ramaphosa gesê gekoördineerde optrede regoor die regering is nodig om planne in resultate te omskep. Hy het bygevoeg hervormings in sleutelsektore soos energie, vervoer en belegging is daarop gemik om die ekonomie te versterk en langtermynontwikkeling te ondersteun:
# AfriForum het die Hooggeregshof in Pretoria se besluit verwelkom om die Inligtingsreguleerder se aansoek om verlof tot appèl teen die publisering van matriekuitslae, van die hand te wys. Alana Bailey van AfriForum sê die uitspraak bevestig dat die publisering van uitslae met die gebruik van eksamennommers, leerders se privaatheid beskerm, terwyl dit steeds in openbare belang optree. Die saak het in 2022 begin toe pogings aangewend is om die publisering van uitslae te keer. Sy sê dit is ‘n oorwinning vir toegang tot inligting:
# Namibië hersien tans sy 33 jaar oue immigrasiewetgewing as deel van pogings om migrasiebestuur te vernuwe, grensveiligheid te versterk, en belegging en reis te ondersteun. Die Direkteur van Immigrasie en Grensbeheer, Danelie |Naris het tydens ‘n openbare raadpleging in Swakopmund gesê die wet van 1993 weerspieël nie meer die huidige migrasieneigings en tegnologiese ontwikkelings nie. Die voorgestelde Wetsontwerp op Immigrasiebeheer sal gevorderde reisigersinligtingstelsels instel en voorsiening maak vir beleggers en geskoolde werkers. Die hervormings poog om ‘n doeltreffende, veilige en ekonomies ondersteunende migrasieraamwerk te skep.
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam FIFA het al die spanne bevestig vir die Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika, wat Dinsdag afskop. Een-duisend-248 spelers sal 48 spanne verteenwoordig in 104 wedstryde in Kanada, Amerika en Mexiko, met die eindstryd op 19 Julie. FIFA sê 357 spelers het reeds aan minstens een toernooi deelgeneem, terwyl 891 die eerste keer sal deelneem. Craig Gordon van Skotland is die oudste speler in die toernooi op 43 jaar en 162 dae, en Gilberto Mora van Mexiko die jongste op 17 jaar en 240 dae.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-979-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-464-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-70-sent per vat.
# En laastens, die KwaZulu-Natalse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, het rampbestuurspanne op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas namate ‘n kouefront oor die land beweeg. Temperature sal na verwagting skerp daal, met ligte sneeu wat oor die Drakensberge voorspel is. Stappers word gewaarsku om die berge te vermy. Die departement se woordvoerder, Senzelwe Mzila, het motoriste gevra om versigtig te ry in die nat en koue toestande, en boere aangeraai om hul vee in skuilings te hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….