Nuus 16:00
BULLETIN 3 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Willie Aucamp prys die inhegtenisnemings in ‘n dubbele moord in die Krugerwildtuin
# Die Hooggeregshof verwerp die geskorste sersant Fannie Nkosi se aansoek om borgtog
# En motorsport: Charles Leclerc verbind hom tot Ferrari met ‘n verlengde kontrak
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, verwelkom die inhegtenisnemings van twee verdagtes in Mosambiek in verband met die moord op die Suid-Afrikaanse toeriste, Dina en Ernst Marais, in die Krugerwildtuin in Limpopo. Die verdagtes is aangekeer danksy samewerking tussen Mosambiekse ondersoekbeamptes, bewaringsvennote en veldwagters. Aucamp sê dis ‘n belangrike stap na geregtigheid vir die Marais-gesin:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die geskorste lid van die Valke se Eenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaad, sersant Fannie Nkosi, se aansoek verwerp teen die Pretoria-Noordse Landdroshof se weiering om hom borgtog toe te staan. Die hof het bevind die landdros het nie ‘n fout gemaak nie. Nkosi bly in aanhouding op aanklagte van diefstal, regsverydeling en die besit van ongelisensieerde ammunisie en plofstof, en polisiedossiere. Hy is in hegtenis geneem nadat hy voor die Madlanga-kommissie getuig het, gevolg deur ‘n klopjag op sy huis in Pretoria.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die Aurobindo-groep versoek om Suid-Afrika as ‘n Pan-Afrika-uitvoerspilpunt vir die farmaseutiese sektor te gebruik. Hy het op ‘n vergadering met die onderneming in Indië gesê die vennootskap kan werk skep, vaardighede ontwikkel en streeks-verskaffingskettings versterk met staatsondersteuning deur spesiale ekonomiese sones, beleggingsaansporings en vaartbelynde regulasies. Mashatile sê nouer samewerking sal uitvoere uitbrei en gedeelde ekonomiese groei reg oor Afrika bevorder:
# Motorsport: Charles Leclerc het sy kontrak met Ferrari verleng voor die naweek se Grand Prix in sy tuisstad, Monaco. Sy vorige kontrak sou glo in 2029 verstryk. Die 28-jarige het in 2019 by Scuderia aangesluit na hy die vorige jaar by Sauber in Formule Een begin het. Leclerc het reeds in 155 wedrenne gejaag. Hy is Ferrari se tweede mees ervare jaer en is het die tweede meeste voorste wegspringplekke na die Duitser Michael Schumacher. Leclerc is nou derde op die bestuurders-punteleer na Kimi Antonelli en George Russell van Mercedes.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-909-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-454-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Redakteursforum is bekommerd oor berigte van joernaliste wat teistering, intimidasie en mishandeling ondervind het terwyl hulle onlangse betogings gedek het, insluitend March and March se optogte. SANEF vra enige joernalis, redakteur, fotograaf, videograaf, vervaardiger of mediawerker wat teistering in enige vorm ervaar het om na vore te kom. Die liggaam sê dit sal help om die omvang en aard van hierdie voorvalle noukeurig te bepaal. SANEF sê joernaliste moet toegelaat word om hul werk vrylik en veilig te doen sonder intimidasie, teistering, versperring of inmenging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….