Nuus 15:00
BULLETIN 3 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Aucamp prys die inhegtenisnemings in ‘n dubbele moord in die Krugerwildtuin
# Die George-munisipaliteit waarsku inwoners oor gure weerstoestande
# En rugby: Drie Suid-Afrikaners wen Verenigde Rugbykampioenskaps-toekennings
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, verwelkom die inhegtenisnemings van twee verdagtes in Mosambiek in verband met die moord op die Suid-Afrikaanse toeriste, Dina en Ernst Marais, in die Krugerwildtuin in Limpopo. Die verdagtes is aangekeer danksy samewerking tussen Mosambiekse ondersoekbeamptes, bewaringsvennote en veldwagters. Aucamp sê dis ‘n belangrike stap na geregtigheid vir die Marais-gesin:
# Die African People’s Convention is bekommerd oor die verpakte goedere-maatskappy Tiger Brands se besluit om sy Beacon-lekkergoed-handelsmerk te verkoop en waarsku dit kan werksgeleenthede en plaaslike vervaardiging bedreig. Woordvoerder Lucas Mphaka sê die verkoop kan ‘n uitwerking hê op fabriekwerkers, verskaffers, vervoeroperateurs en klein ondernemings wat aan die waardeketting verbind is. Hy vra waarborge vir werksekerheid en bepleit deeglike ondersoeke van die regering sowel as arbeids- en mededingingsowerhede:
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap vra inwoners om onnodige ritte te vermy aangesien erge weer die gebied weer vandag en môre sal tref. Woordvoerder Debra Sauer waarsku swaar reën kan lei tot oorstroomde paaie, laagwaterkruisings en brûe, en rivier- en stroomvlakke kan styg. Sy vra motoriste om versigtig te wees, oorstroomde paaie te vermy en spoed te verminder. Sauer sê nooddienste bly op hoë gereedheidsgrondslag:
# Rugby: Drie Suid-Afrikaanse spelers is vereer met Verenigde Rugbykampioenskaps-toekennings. Die Leeus se losskakel, Chris Smith, het die Goue Stewel-toekenning ingepalm, die span se heelagter, Quan Horn, die Ysterman-prys en die Stormers-agtsteman, Evan Roos, is die voorste drie-drukker. Smith is beloon vir sy 149 punte van skoppe, Horn het die meeste minute in die gereelde seisoen aangeteken nadat hy elke minuut gespeel het, en Roos het 12 drieë gedruk. Die drietal is onder die eerste groep wenners wat die organiseerders aangekondig het voor die komende naweek se halfeindronde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-227-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-464-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Amazon het sy Prime-intekeningsdiens in Suid-Afrika bekendgestel, wat gratis aflewering op dieselfde dag en die volgende dag insluit, asook videostroming, wolk-speletjies en eksklusiewe inkopie-aanbiedings. Dit kos 59-rand per maand of 399-rand per jaar ná ‘n gratis proeftydperk van 30-dae. Volgens Amazon sal Prime-lede ook toegang hê tot Prime Video, Amazon Luna, Twitch-voordele en eksklusiewe Prime Day-afslag. Besturende direkteur Robert Koen sê die aanbod bied inkopiegerief en vermaak, wat groter waarde vir Suid-Afrikaanse verbruikers beteken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….