Nuus 14:00
BULLETIN 3 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi vra president Cyril Ramaphosa se samewerking met die ampsklag-komitee
# Hyundai herroep 337 Tucson-voertuie in Suid-Afrika om veiligheidsredes
# En Krieket Kanada stel ondersoek in na bestuur en finansiële beheer ná die IKR-skorsing
# RISE Mzansi versoek president Cyril Ramaphosa om ten volle saam te werk met die Parlement se ampsklag-komitee en sê verantwoordbaarheid is noodsaaklik om Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie te versterk. Makashule Gana van die party het die oproep gedoen tydens die Nasionale Vergadering se begrotingsrede-debat en voer aan niemand is bo die wet verhewe nie. Hy sê die ampsklagproses moet voortgaan sonder inmenging, en bepleit deursigtigheid terwyl die Parlement sake oorweeg:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het die Regulasies ingevolge die Wet op Dieresiektes gewysig om inenting teen voëlgriep toe te laat. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging kommer uitgespreek het oor die uitwerking van massa-uitdunning tydens uitbrekings. Steenhuisen sê die nuwe raamwerk sal boere wettig toegang gee tot inenting, biosekerheid en toetsmaatreëls om kuddes en werksgeleenthede te beskerm. Die departement sal tussentydse beheermaatreëls instel om siektebestuur te versterk en voedselsekerheid en die volhoubaarheid van die pluimveebedryf te verseker.
# Nege verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ‘n 51-jarige sakeman van Summer Greens in Kaapstad. Hy is verlede Maandag tydens ‘n huisroof ontvoer toe gewapende aanvallers sy huis binnegedring en kontant en selfone gesteel het voor hulle ‘n losprys geëis het. ‘n Polisie-opsporingsoperasie het gelei tot inhegtenisnemings in Khayelitsha en in Saldanhabaai, waar die sakeman gered is. Die polisie sê hy is vasgebind en beseer gevind en na ‘n mediese gerief geneem vir behandeling.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het 337 Hyundai Tucson NX4 N-Line M1-voertuie herroep wat in 2023 verkoop is. Hyundai Automotive se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê die betrokke voertuie kan moontlik onverwagte noodremming ondervind weens ‘n fout in die voorbotsings-vermydingstelsel. Die probleem kan ‘n veiligheidsgevaar inhou. Sy raai eienaars aan om gemagtigde Hyundai-handelaars te kontak vir ‘n gratis sagteware-opdatering van die voorste kamera:
Nou sportnuus:
# Krieket Kanada het ‘n prokureur en voormalige Pan-Amerikaanse atleet, Dasha Peregoudova, aangestel om ʼn onafhanklike ondersoek te lei na die organisasie se bestuur en finansiële beheer. Dit volg nadat die Internasionale Krieketraad Kanada se lidmaatskap opgeskort het ná omstredenheid en bewerings van korrupsie en finansiële wanbestuur. Die land se nasionale spanne mag tydens die skorsing steeds aan IKR-geleenthede deelneem. Die beheerliggaam se nuwe tussentydse uitvoerende hoof, Bhavjit Jauhar, sê hulle is daartoe verbind om al die IKR se vereistes na te kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-240-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-460-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….