Nuus 13:00
BULLETIN 3 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# GIWUSA vra Suid-Afrikaners om op te tree teen xenofobiese aanvalle
# Eskom soek spesialisondersoekers om die agterstand in forensiese sake aan te pak
# En sokker: Die Nasionale Dobbelraad waarsku oor ‘n bedrogspul met sportweddenskappe voor die Wêreldbekertoernooi
# Die vakbond GIWUSA vra georganiseerde arbeid, gemeenskaps-organisasies en jeugbewegings om onmiddellik op te tree teen voortdurende xenofobiese aanvalle en die sogenaamde sperdatum van 30 Junie. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê veldtogte om mense uit die land of sekere streke te verdryf, kom neer op aanhitsing tot geweld en moet ten sterkste veroordeel word:
Die Wes-Kaapse polisie ontken intussen die moord op die 19-jarige Nhlamulo Sambo, oorspronklik van Giyani in Limpopo, in Mosselbaai hou verband met betogings teen onwettige immigrante. Sy ma, Patricia Sambo, het op sosiale media beweer haar seun is die naweek tydens betogings vermoor omdat hy Tsonga bepraat het. Die provinsie se polisiekommissaris, Thembisile Patekile, sê Sambo is voorgekeer toe hy na bewering goedere uit ‘n hut wou steel, waarna die eienaar hom gejaag en doodgesteek het.
# Eskom sê sy agterstallige forensiese ondersoekprojek vorder nadat ‘n tender uitgereik is vir spesialis-ondersoekers vanaf 1 September. Dit kom te midde van onreëlmatige dieselverkrygings-kontrakte ter waarde van miljarde, en verliese weens spookverkope, wat die kragvoorsiener meer as 20-miljard-rand oor drie jaar gekos het. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die kragopwekker se forensiese ondersoekfunksie is ‘n kritieke onderdeel van sy bestuurs-, versekerings- en gevolgbestuursraamwerk:
Nuus uit die buiteland:
# Die Internasionale Organisasie vir Migrasie waarsku dat grenssluitings weens die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda mense kan aanmoedig om grense oor te steek wat minder streng gemonitor word. Meer as 600 vermeende Ebola-gevalle en meer as 300 sterftes is aangemeld. Die organisasie sê reaktiewe grenssluitings kan die sigbaarheid van bevolkings-bewegings verminder, wat gesondheidsondersoeke, toesig, kontakopsporing en vroeë opsporings-pogings ondermyn. Hy sê die doeltreffendste reaksie is gekoördineerde optrede wat bewegings sigbaar, veilig en gemonitor hou.
# Sokker: Die Nasionale Dobbelraad waarsku Suid-Afrikaners om op hul hoede te wees vir onwettige dobbelplatforms en vals weddenskaps-toepassings tydens die Wêreldbekertoernooi. Die raad sê misdaadsindikate maak dikwels gebruik van verhoogde weddenskappe tydens groot sportgeleenthede deur die gebruik van bedrieglike mobiele toepassings, uitvissing-skakels en misleidende advertensies op sosiale media om verbruikers te bedrieg. Die publiek word versoek om verantwoordelik te dobbel en seker te maak dat operateurs wettig is voor hulle weddenskappe aangaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-787-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-450-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….